Louise Gevers

Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld.  1 Petrus 1:17

Onthou jy 'n keer toe jou gunstelingspan 'n belangrike wedstryd verloor het omdat die skeidsregter partydig was, of jou vriend 'n prys vir 'n opstel gekry het alhoewel julle beide dieselfde punte gehad het, of jou baas 'n bonus aan iemand toegeken het terwyl jy van mening was dat jy meer bevoeg was? Hierdie dinge het jou waarskynlik kwaad, depressief en ontnugter gelaat.

Voortrekkery is onregverdig en dit laat letsels soos wat 'n mens dikwels in families, die kerk en die land kan sien. Die Here sal dit nooit doen nie en Hy wil ook nie dat ons dit doen nie. Wanneer sulke onheilige praktyke voortduur laat dit mense onbevredig, rusteloos en hulle verloor hulle geloof. 'n Mens voel soms hulpeloos wanneer jy toekyk hoe sulke onregverdigheid plaasvind, of self 'n slagoffer is van voortrekkery, en neem dan soms sake in eie hande, dikwels onsuksesvol. Ons moet egter daarop let dat ons menings subjektief is en dat daar miskien ander relevante faktore is waarvan ons nie bewus is nie. Die Here sal ons help om te onderskei indien ons om sy hulp vra, en Hy sal ons help om Hom nie oneer aan te doen nie.

Onpartydigheid kan nooit in hierdie wêreld gewaarborg word nie want niemand is volmaak nie en niemand sien die groot prentjie nie, laat staan nog die hart en denke van 'n medemens! Ons word soms mislei deur uiterlike optredes selfs wanneer ons dink dat ons in 'n situasie onpartydig optree. Die Here alleen is regverdig want in Genesis lees ons Hy is die regter van die hele aarde wat reg laat geskied. (Genesis 18:25) Hy maak die speelveld gelyk en sal almal op die regte tyd voor sy troon van geregtigheid laat verskyn.

In sy brief vra Jakobus aan die gelowiges: "het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?" (Jakobus 2:4) Kom ons kyk hoe ons vaar. Behandel ons die hawelose persoon in ons kleingroep dieselfde as wat ons die bes geklede persoon behandel? Wat van die vlugteling uit 'n ander land, of diegene wat reeds bejaard is? Onthou God kyk na die harte van mense.

Petrus beveel ons om 'n diepe ontsag te hê vir God wat almal regverdig behandel, en om Hom deur ons lewens te eer. Onpartydigheid is een van God se karaktertrekke (Romeine 2:11), so dit is 'n waardevolle en noodsaaklike karaktertrek om aan te kweek as dit vir ons 'n ernstige saak is om heiligheid na te streef. Hy sal diegene wat werklik glo en gehoorsaam is aan sy opdragte in die Bybel daarmee help.

Sal jy Hom vra om jou te help?

Gebed: Vader, in 'n wêreld vol vooroordele en ongeregtigheid, reinig my hart en verstand sodat ek soos U kan wees en 'n verskil kan maak in my huis, my werk en waarheen U my ookal lei. Amen