Louise Gevers

Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.”  1 Petrus 1:16

Stel jou voor, om van voor jou geboorte gekies te word om nooit jou hare te sny of alkohol te drink nie; of om in jou jeug uit jou land weg van familie en geloof na 'n vreemde land geneem te word om daar 'n leier te dien – een wat die krag van lewe en dood oor jou gaan hê; of stel jou 'n lewe in die woestyn voor met klere van kameelhaar en heuning en sprinkane as jou kos. Simson, Daniël en Johannes is almal op verskeie maniere afgesonder om die Here te dien. (Rigters 13; Daniël 1; Matteus 3)

Hierdie is voorbeelde in die Bybel van slegs 'n klein groepie mense uit al die mense wat deur God geroep is, wat besonder heilig gelewe het. Alhoewel dit sonder twyfel vir elkeen van hulle moeilik was om so anders te wees, en as gevolg daarvan met die antagonisme van hulle tydgenote te doen gekry het, het hulle tog aan God se doel vir hulle lewens beantwoord. God rus altyd diegene toe wat Hy roep, en sy krag kom juis tot volle werking wanneer hulle swak is. (2 Korintiërs 12:9)

Dink aan jou eie lewe. Is daar bewyse van hoe die Here jou afgesonder het vir Hom; of bewyse van iets wat jy gekies het om vir Hom te doen wat jou afsonder van jou tydgenote? Wanneer jy jou verbind om Christus te dien, sal jy besef dat daar nog dinge uit jou ou lewe is wat steeds jou aandag trek, maar wat jy moet agterlaat sodat jy volkome aan die Here toegewy kan wees. Paulus sê vir die Efesiërs: "Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig." (Efesiërs 4:22-24)

Petrus se gebruik van die beeld van God se kinders as vreemdelinge, tydelike burgers van hierdie wêreld, help baie. Ons dra by tot die welstand van hierdie wêreld, ons het 'n gesonde respek vir die owerheid en geniet alles wat goed is in die wêreld, maar as burgers van die hemel moet ons nooit vergeet Wie dit is wat ons dien nie, of ons waardes verloor en in 'n kultuur wat God minag verval nie.

Heiligheid is 'n opdrag, nie net 'n voorwerp om tot ons wenslysies te voeg nie. " … 'n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie." (Hebreërs 12:14) 

Laat ons alles in ons lewens wat tussen ons en God kom, verwyder; enigiets wat onheilig is. Laat ons fokus om dinge te ontdek wat ons meer soos Hy laat word. Ons moet Hom vra om ons bewus te maak van ons probleemareas, en dit dan een vir een uit ons lewens verwyder. Hy sal ons help om gehoorsaam te wees.

Gebed: Hemelse Vader, wys my asseblief wat dit is wat my verhinder om heiligheid na te streef. Help my asseblief om dit uit my lewe te verban en om meer en meer soos U te word. Amen