Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Paar weke gelede het Ras (Erastus) Beukes, ’n 22-jarige Paarliet, saam met twee vriende, Hugo en Mark op ’n seiljag in Singapoer geklim. Hulle opdrag was om die seiljag in Auckland, Nieu-Seeland te gaan aflewer. Die roete is egter uiters gevaarlik weens sterk seestrome, seerowers en terroriste-aktiwiteite.

Terwyl Ras in verlede week alleen op die dek besig was om wasgoed op te hang, wou hy seewater skep om die dek af te spoel. In die proses het hy oorboord geval. Sy pogings om terug by die boot te kom was egter tevergeefs en geskok moes hy toekyk hoe die seiljag in die vêrte verdwyn. Al wat hy kon doen, was om die emmer wat ook oorboord geval het, om te keer en daaraan vas te klou om te dryf.

In die diepsee het Ras met sy hele wese na God uitgeroep vir ’n wonderwerk. ’n Uur en ’n half later, het Hugo en Mark besef dat Ras weg is. Hulle het onmiddellik teruggedraai, wetend dat dit bykans onmoontlik sou wees om Ras in die watermassa met sterk strome op te spoor.

Op die dek het Hugo sy ouers via die satellietfoon ingelig wat met Ras gebeur het. By die huis het sy ouers intens begin bid dat God vir Hugo en Mark sou lei om Ras te vind. Tyd was egter besig om uit te hardloop. Hugo en Mark was op die punt om moed op te gee toe hulle ’n spikkeltjie in die watermassa sien. Hulle het besluit om vir oulaas nader te gaan. Dit was Ras!

Ná Ras se redding, het Hugo in trane die gebeurtenis as ’n absolute wonderwerk beskryf aangesien Ras 5km weg was van waar hy heel moontlik oorboord geval het. Ook Ras het gesê dat hy nog nooit só na God geroep het nie. Al het hy gedink dat hy dalk sou sterf, het hy in sy hart bly glo dat God ’n wonderwerk kon doen.

Voor Ras se vertrek het sy ma, Elna, sonder dat sy geweet het wat vir hom voorgelê het, haar seun aan die woorde in Genesis 21:17 herinner: God het die kind hoor huil, en die Engel van God het uit die hemel na Hagar geroep en vir haar gesê: ‘Wat is dit, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die kind daar waar hy lê, gehoor.’” Haar boodskap was: “Onthou Ras, wat ook al die noodsituasie op die boot of in die water, roep na God, want Hy hoor!”

Hierdie boodskap is vandag nog in ons lewens ook van toepassing. Maak nie saak wat jou noodsituasie vandag mag wees – werk, in jou huisgesin, jou gesondheid, finansies, huwelik – roep na God, want Hy hoor. Hy stuur ook sy engele om ons te help. Kan jy jouself indink hoeveel Engele saam met Hugo en Mark in hul soektog op die boot was? Ook saam met Ras in die water? Net so is daar ook engele by jou terwyl jy hierdie vandag lees al sien jy hulle nie. Kom ons dank God dat Hy hoor wanneer ons na Hom roep en dat Hy in staat is om wonderwerke te doen al lyk en voel dit soms totaal onmoontlik. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U nooit sluimer of slaap nie. U is getrou en ek prys U Naam daarvoor. Help my asseblief vandag om nie negatief te raak in my storm nie, maar om my oë op U te hou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Kyk gerus na ’n foto van Ras en sy ouers (Elna en ds. Rudi Beukes van die Evangelies Gereformeerde Kerk op Paarl) by www.benescke.co.za
  • Opdrag: Voordat jy weer begin bekommerd raak in ’n noodsituasies, herinner jouself dat Hy hoor en ook ons gebede kan verhoor.
  • Terugvoer: Gee gerus terugvoer of deel jou getuienis van God se deurbrake in jou by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke