My hart is vol … - 23 Augustus 2017

Danny Fourie

Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.  Spreuke 4: 23

'n Mens se hart is nie leeg nie, maar vol. Vol van die dinge wat ons persoonlik raak. Dit kan vol vrolikheid wees, maar ook vol verdriet. Vol liefde, maar ook vol boosheid.

Miskien is jou hart vol sonde. Jou gewete kla jou aan dat jy teen God gesondig het. Tog wil die Here jou hart vernuwe. Hy is die beste kardioloog. Hy is in staat om sonde en skuld te genees. God het sy Seun wie se hart aan die kruis gebreek is, gegee om joune te behou.

Miskien is jou hart vol droefheid. Ander mense weet nie wat ek deurmaak nie. Hulle weet nie van die stryd en die nagte wat ek wakker lê nie. Al bedoel hulle dit ook goed, sal hulle dit nie kan verstaan nie.

Die Here wil betrokke raak en jou hart vernuwe. Jy is geneig om alles op te krop en dit knaag aan jou hart. Dit is nie 'n lewe nie. Jy raak al hoe meer van balans. Stel jou hart tot beskikking van die Here, stort jou hart voor Hom uit. “Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde” (Psalm 147:3). Die hart van Christus is aan die kruis gebreek om joune te genees.

Miskien is jou hart vol angs. Angs vir mense, vir die Satan, vir jouself en die toekoms. Gee my jou hart, sê die Here, my liefde dryf die vrees weg. Moenie krampagtig verder leef nie. Is daar dalk dinge in jou lewe wat nie vergewe is nie? Bely dit en jy sal uiteindelik vrede hê. Dan sal die vrees ook wyk.

Die hart van Christus is aan die kruis gebreek om ons van die vrees te bevry. Hy het die angste van die hel deurstaan om ons daarvan te verlos. Gee jou hart vir Hom.

Gebed: Here, leer ons om te verstaan dat ons nie langer die heer en meester van ons hart kan bly nie. Ons moet dit aan U teruggee wat ons met liefde trek. Vernuwe ons hart en neem die vrees weg. Amen.

 

Go to top