Danny Fourie

Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.  Spreuke 4: 23

Miskien sê jy my hart is nie vol nie, maar eintlik leeg. So treurig leeg. Ek het geen begeerte om die Here te dien nie. Die enigste ding wat ek met my leë hart doen, is om te kla. Ek word so moeg, moedeloos.

Dit is ook die tipe persoon wie se hart die Here wil vernuwe. 'n Mens dink dat voordat die Here dit wil doen, dit eers heel anders in 'n mens se lewe moet word. Moet my hart nie eers vol word van liefde en die begeerte om God se verlossing aan te neem nie? Nee, dit hoef nie eers te gebeur nie. Baie mense begin by die buitekant van hul lewe. Die Bybel wys ons egter dat ons by die verkeerde kant begin. Die Bybel begin by die binnekant van die mens. By sy of haar hart. Die hart moet vernuwe word. Van daaruit word die hele lewe vernuwe.

Die Here wil jou hart hê soos dit nou is en Hy wil dit vol maak. Die leegheid in jou hart wegneem en dit met sy Gees volmaak, sodat jou hart gevul word met nuwe hoop en verwagting, met moed en krag. God het sy Seun na die kruis gestuur waar sy hart leeg geloop het om joune vol te maak.

Iemand wat jonk is, kan sê: my hart is nog jonk en klop van verwagting. Dit bruis van verlange vir die toekoms. Ek hoop om my eksamens te slaag, ek hoop om 'n goeie loopbaan te volg, ek hoop om te trou, ek hoop om beter te word van my siekte. 'n Jongmens se hart kan vol ideale wees. Maar ook vir die jongmens sê die Here: gee my jou hart. Ek wil dit vernuwe – met al die verlangens en ideale. Jy het my nodig. Sommige verlangens sal nie in vervulling gaan nie. Dit is beter vir jou. Of dit sal op 'n heel ander manier in vervulling gaan.

Wanneer die Here ons vra dat Hy ons hart wil vernuwe, dan doen Hy dit met die bedoeling om Hom in ons daaglikse lewe van harte te dien. Sodat ons hele lewe deur die bekering van ons hart vernuwe word. Sodat ons die Here met hart en siel vrees.

Gebed: Here, neem my hart net soos dit is: vol of leeg. Vernuwe dit sodat my hele lewe nuut kan wees. Amen.