Danny Fourie

Liewer min hê en die Here dien as groot rykdom en bekommernis daaroor. Liewer net ’n bietjie groente en liefde daarby as ’n vetgemaakte os en haat daarby.  Spreuke 15:16-17

Salomo vertel van twee gesinne. Die eerste gesin is nie ryk nie. Hulle het maar min aardse besittings. Maar in die gesin woon die vrees van die Here. Daar is eerbied vir die Here en sy Woord.

Salomo skets 'n tweede gesin. Daar is geld en dinge, luukse en welvaart. Maar wat is die geval met hierdie gesin? Daar heers onrus. Die gesin is ontwrig. Almal is gejaagd. Daar is geen vrede en orde nie.

Twee gesinne … totaal verskillend. Nou is die vraag, watter gesin verkies 'n mens? Die ryk gesin of die arm gesin? Salomo verkies die arm gesin. Nie om die armoede as sodanig nie, maar omdat die vrees van die Here in daardie gesin woon.

In die volgende vers sien ons albei gesinne om die tafel. Aan tafel leer 'n mens die gesin die beste ken. In die eerste gesin staan daar nie veel op die tafel nie. Daar is 'n groen gereg, 'n skottel groente. Vir 'n Jood in Salomo se dae was dit maar 'n eenvoudige ete, eintlik 'n bykos. Niks besonders nie. Tog is die maaltyd wel besonders, want in hierdie gesin heers daar liefde. Dit is asof 'n mens die gesinsmense vir mekaar hoor sê: Is dit nie lekker om saam te wees nie? Sorg die Here nie goed vir ons nie?

Ook die tweede gesin sit om die tafel. Op die tafel staan 'n geweldige ete, 'n feesmaal. Die vleis van 'n spesiale kalf is op die tafel. In Israel was dit besonders. Maar kyk na die mense om die tafel. Hul gesigte is strak. Daar is geen vreugde nie. Hulle loer na mekaar met jaloerse gesigte. Eintlik haat hulle mekaar.

Wat is nou beter? Die gesin om die armoedige tafel, met liefde, of die gesin om die feesmaal, vol haat? Die eerste gesin is verreweg die een om te kies. Die liefde gaan ver bo die maaltyd uit.

Dit is duidelik wat Salomo bedoel. Egte welvaart rus op twee pilare: die vrees van die Here en liefde vir mekaar. Waar hierdie twee faktore teenwoordig is, is daar 'n geseënde lewe.

Gebed: Here, leer ons dat daar waar daar liefde tot U en liefde tussen mekaar is, daar egte lewensvreugde is. Amen.