Danny Fourie

’n Wyse vrou sorg vir haar huis; ’n vrou sonder wysheid breek alles af.  Spreuke 14:1

Met huis word hier gesin bedoel. Nie die woning nie. Daar is ma’s wat aan die woning wat gekoop is, bou. 'n Groot verband moet afbetaal word. Hulle werk hard om die skuld weg te werk. Dit kan gebeur dat die bou van so 'n huis ten koste gebeur van die bou van die gesin wat in die huis bly. Dit is 'n ramp. Om 'n mooi huis te bou as dit kan, is wonderlik. Om 'n gesin te bou is veel belangriker.

Daarom sê Salomo 'n wyse vrou bou haar gesin. Sy is 'n evangelis in haar gesin. Sy praat met haar kinders oor die dinge van God se koninkryk. Sy bid en lê die name van haar kinders in die Here se hande. So lê sy die fondament van die lewenshuis van haar kinders.

In die Bybel is daar baie sulke ma’s. Dink aan Hanna, die ma van Samuel, wat haar kind van die Here gebid het en hom aan die Here teruggegee het. Dink aan Eunice, die ma van Timoteus. Sy was 'n wyse ma om die geloof wat sy by haar ma Lois gekry het, aan haar seun deur te gee.

Ook in die kerkgeskiedenis was daar ma’s wat 'n invloed op die gebeure in die kerkgeskiedenis gehad het. Die ma van die kerkvader Augustinus, wat gedurig vir haar kinders gebid het. Biskop Ambrosius het gesê 'n kind van soveel gebed kan nie verlore gaan nie. Augustinus kom tot bekering en word 'n groot leier in die kerk. Die ma van die Engelse prediker John Wesley het agtien kinders gehad. Sy het haar kinders Grieks en Latyn geleer, maar belangriker was dat sy elke aand 'n uur opsy gesit het om met haar kinders oor God te praat. John se beurt was Donderdagaande. Later skryf hy in sy dagboek: “O, kon ek maar nog een Donderdagaand met my ma oor die dinge van die koninkryk van God praat.”

Gebed: Here, ons bid dat U alle ma’s met wysheid, liefde en takt sal seën. Ook vir die ma’s en pa’s wat alleen moet instaan as weduwees of wewenaars of geskeides. Leer hulle om te bid as hulle nie verder weet nie. Amen.