Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Lente: Wanneer die woestyn begin bloei - 7 Augustus 2025

Ewald SchmidtAu
 
Die woestyn, die dor land, sal jubel, die droë wêreld sal juig, oortrek met affodille; hy sal in volle bloei staan, hy sal juig en sing ... Jesaja 35:1-2a, 1983-vertaling
 
Om Jesaja se woorde reg te verstaan, moet ons eers die agtergrond van vandag se teksvers ken. In Jesaja se leeftyd het die Suidryk, Juda, al hoe verder van die Here af wegbeweeg. Hulle het begin om die afgode van ander nasies te aanbid. Geweld het toegeneem, en die armes is deur die magtiges onderdruk. God het verskeie profete gedurende hierdie tydperk gestuur om hulle te waarsku, maar die volk wou nie luister nie. Hulle het hulle nie van hulle verkeerde weë af bekeer en teruggedraai na hulle God nie.
 
Toe gebeur dit: in 586 v.C. het die Babiloniërs Jerusalem oorwin. Die tempel is verwoes, die stadsmure afgebreek, en die leiers en kundiges is in ballingskap weggevoer. Dit was 'n tyd van oordeel en verlies – 'n geestelike winter. Die Here het toegelaat dat hulle uit die Beloofde Land weggevoer word as slawe.
 
In die Bybel is oordeel egter nooit die einde van die storie nie. God se genade bied altyd hoop – selfs in die donkerste tye. Jesaja bring 'n boodskap van hoop: God sal weer optree. Waar daar nou net dood en verwoesting is, sal nuwe lewe weer uitspruit. Die dorre woestyn sal bloei soos 'n lelie – 'n simbool van broosheid en skoonheid, van lewe wat opkom waar dit onmoontlik lyk.
 
Hy is die Een wat woestyne laat blom. Hy bring lewe waar alles verlore lyk. Blydskap en lofprysing sal weer opklink waar eens net stilte was.
 
Jesaja verseker ons: woestyntye hou nie vir altyd aan nie. Soos die winter plek maak vir die lente, bring die Here se trou nuwe groei en hoop in ons lewens. Selfs al sien jy dit nog nie, dit is op pad. Die eerste tekens van lente is klein: 'n botsel wat uitkom, 'n sagte loot, 'n spatsel kleur in 'n dooie landskap. Maar dit is die begin van iets nuuts.
 
Mag jy hierdie nuwe seisoen beleef, en saam met die hele skepping jubel oor die goedheid van ons God.
 
Gebed: Here, ek bid vandag vir die deurbraak van u lente in die winter van my lewe. Ek kies om U te vertrou, al sien ek nog nie 'n verskil nie. U bring altyd nuwe lewe. Geen winter hou vir altyd aan nie, en geen woestyn is eindeloos nie. U liefde en trou is groter as my omstandighede. Mag blydskap en vreugde weer my lewe vul, want U is goed. Amen.
 
Next article: Your story: A person with courage - 9 April 2024 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.