Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 6 November 2012

“Ek kyk net ...”

Hennie Symington

Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad. Daar was ʼn man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, ʼn ryk man. Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te kort was. Hy hardloop toe vooruit en klim in ʼn wildevyeboom om Jesus te kan sien, want Hy sou daar verbygaan. Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.”

Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang. Lukas 19:1-6        

Die maklikste manier om van ʼn lastige verkoopspersoon in ʼn winkel ontslae te raak is om te sê: “Ek kyk net.” Dit beteken, ek stel belang maar is nie gereed om te besluit nie. Moenie my druk nie.”

In die Bybel ontmoet ons ook so ʼn “potensiële koper”. Toe ʼn man met die naam Saggeus hoor dat die prediker wie se naam op almal se lippe is na Jerigo toe kom, wou hy hom ook sien. Hy klim toe in ʼn boom om van ʼn afstand te kyk en te luister. Het jy maar geweet...

Hoe verder ons hierdie storie lees, hoe meer herinner die kort mannetjie in die vyeboom ons aan iemand wat ons ken, tot jy met ʼn skok besef: “Maar hy lyk soos ek.” Ons hou ook soms daarvan om die kat uit die boom te kyk. Ons raak nie betrokke nie; ons kyk. Ons belangstelling is geprikkel maar ons verkies om afstand te behou. En as iemand ons nader sê ons vinnig: “Nee dankie, ek kyk net.”

Miskien is die tyd ryp vir jou om betrokke te raak, al vra dit ʼn geloofsprong. Miskien is dit tyd om op te hou wag vir die “regte plek en die regte tyd”. Doen dit net!

Saggeus het uit die boom geklim en kyk wat het met hom gebeur! Jesus het sy lewe in ʼn oogwenk verander. In plaas daarvan om net te kyk, het Jesus hom gewys hoe om die wêreld deur nuwe oë te sien.

Jesus is nie op pad na jou omgewing toe nie. Hy is reeds daar. En Hy nooi jou uit om deel van sy koninkryk, hier en nou te wees. Al wat jy hoef te doen is om uit jou wegkruipplek te voorskyn te kom en die uitdaging te aanvaar.

Gebed: Here, keer dat ek die lewe altyd van ʼn afstand beskou. U uitnodiging staan. Help my om dit te aanvaar. Amen.

Previous article: Vers n dag - 7 November 2012 Prev Next article: Vers n dag - 5 November 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.