Vers n dag - 13 Augustus 2012
Titel: Rolmodel
Francois Sieberhagen
Weet julle nie dat atlete wat aan 'n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen. 1 Korintiërs 9:24
Die Olimpiese Spele is verby. Wat ʼn voorreg was dit nie om al hierdie atlete wat vir baie jare hard gewerk het in die verskillende dissiplines in aksie te sien nie. In die maande en jare wat gaan volg gaan ons telkens nog beelde sien wat die kameras vasgevang het tydens hierdie skouspel.
Daar gaan die beelde wees van mense wat getriomfeer het, wat die hoogste sport bereik het, ʼn goue medalje! Dan gaan daar die beelde wees van mense wat bitter teleurgesteld is oor hulle mislukking.
Wat die kameras vasvang, is die oomblik van sukses of teleurstelling, die groter prentjie gaan nie daar wees nie. Die harde werk wat die atlete ingesit het gaan by ons as kykers verbygaan. Net besonderse stories gaan vertel word. Die positiewe egter is die baie rolmodelle wat na vore gaan tree. Rolmodelle met ʼn positiewe boodskap.
Vir die gelowige wat deelneem aan die wedloop van die lewe is alles toegespits op die hiernamaals, die ewige lewe saam met God drie-enig. Paulus praat van hierdie voorbereiding as iets wat navolgenswaardig moet wees. Dit gaan daaroor dat ons ʼn rolmodel sal wees.
Rolmodelle het dit egter nie altyd maklik nie. Hulle word deurgaans onder die vergrootglas geplaas, kameras agtervolg hulle en dit wat hulle sê of doen, word tot in die fynste besonderhede ontleed.
Die uitdaging vir my en jou as gelowiges, wat ook rolmodelle is, is om uit te gaan en so te gaan leef dat ons optrede harder en duideliker as ons woorde praat. Dat ons verhouding met Christus so spesiaal en intiem is dat mense nie anders kan as om dit te wil navolg nie. Dat hulle ook die wenstreep wil bereik om vir ewig saam met God in die hiernamaals te wees.
Die groot verskil tussen die Olimpiese Spele en die wedloop van die lewe is gewoon dat daar nie net een wenner is nie. As jy aan die wedloop van die lewe deelneem en jy is getrou tot aan die einde gaan jy die prys wen, gaan jy die ewige lewe beërwe.
Gebed: Dankie Here dat ek ʼn rolmodel mag wees. Deur die Heilige Gees help my om in handel en wandel navolgenswaardig te wees. Amen