Dien ons Hom met ’n opregte hart? - 20 November 2026
Benescke Janse van Rensburg
Nee, die offer wat jy vir God moet bring, is dit: Jy moet vir Hom dankie sê vir alles. En jy moet doen wat jy belowe het aan My, die Hoogste God. Psalm 50:14, Bybel vir almal
Om hierdie gedeelte te verstaan en te begryp waarom God dit sê, moet ons ’n paar verse voor en ná hierdie belofte lees.
Psalm 50 is geskryf deur Asaf, een van die hoofmusikante in koning Dawid se tyd. Dit is ’n profetiese psalm waarin God self met sy volk praat. Hy spreek hulle nie aan omdat hulle te min offers bring nie, maar oor hulle gesindheid en skynheiligheid.
In Psalm 50:9–12 lees ons hoe God vir sy volk sê dat Hy nie hulle beeste of bokke as offers nodig het nie. Alles behoort immers reeds aan Hom. Die wilde diere op die berge, die voëls in die lug en alles wat in die veld beweeg, is Syne. Hy verduidelik selfs dat Hy nie vir hulle kos sou vra as Hy honger was nie, want die hele wêreld en alles daarop behoort aan Hom.
En dan kom ons by vers 14, waar God sê dat lof die offer is wat ons aan Hom moet bring en dat ons ons geloftes aan die Allerhoogste moet betaal.
Dink ’n oomblik daaroor na. God soek nie offers of opofferings wat bloot uit gewoonte gebring word nie. Hy soek ’n hart wat Hom opreg eer. Hy wil hê dat ons Hom met ons lewens moet verheerlik. Dat die manier waarop ons leef, ’n dankoffer aan Hom sal wees.
En wanneer Hy sê dat ons ons geloftes aan Hom moet betaal, herinner Hy ons aan die belangrikheid daarvan om ons woord te hou. Laat jou ja jou ja wees en jou nee jou nee. Integriteit is vir God belangrik. Hy wil hê dat ons getrou moet wees aan die beloftes wat ons maak.
Kom ons doen vandag ’n bietjie introspeksie. Kom ons vra God om ons harte en lewens te ondersoek en vir ons te wys of daar enigiets is waaraan ons moet werk. En kom ons leef só dat ons lewens ’n voortdurende dankoffer aan Hom is vir elke genadegawe wat ons daagliks uit sy hand ontvang.
Gebed: Vader God, baie dankie vir alles wat U elke dag vir ons doen en gee. Help ons om met ’n opregte hart te leef. Help ons om U nie net met ons woorde nie, maar ook met ons lewens te eer. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.