Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God is met ons - 16 November 2026

Benescke Janse van Rensburg
 
Maar Dawid sê vir die Filistyn: "Jý kom na my toe met 'n dolk en 'n spies en 'n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het." 1 Samuel 17:45, 1983-vertaling
 
Ons almal ken die storie van Dawid en Goliat. Ons ken die drama van ’n drie meter hoë reus wat die Israeliete dag in en dag uit verkleineer. Ons ken die gedeelte van die storie waar Dawid opdaag en verbaas vra hoekom nie een van die Israeliete teen die reus opstaan nie.
 
Ons lees hoe hy die koning se swaar wapenrusting aantrek, dit weer uittrek en sê dat hy sy eie wapen verkies: ’n slingervel. Hy tel vyf klippies op en stap op die reus af. Op die oog af lyk hy alleen, maar ons weet hy is nie. God is by hom – die Een wat hom gehelp het om die leeu en die beer te verslaan.
 
Dan kom Goliat se spottende woorde oor die vlakte aangerol: “Is ek ’n hond dat jy met kieries na my toe kom?” (1 Samuel 17:43) Hy vervloek Dawid in die naam van die Filistynse gode.
 
Dit pla Dawid min. Hy weet wie hy is en aan wie hy behoort. Met selfvertroue roep hy terug: “Jý kom na my toe met 'n dolk en 'n spies en 'n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het. Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afkap.”
 
Die gesuis van die slingervel sny deur die lug. Die klip tref die reus se voorkop. En stadig tuimel hy vorentoe. Saam met hom val die hoogmoed en intimidasie. En toe sy liggaam die grond tref, breek die houvas wat vrees op die volk gehad het. Almal weet dat dit God is wat aan hulle die oorwinning gegee het.
 
Ek weet nie wat die reus is wat vandag in jou nek blaas of intimiderende woorde in jou ore fluister nie. Ek ken wel die God wat jou ook kan help om, soos Dawid, met selfvertroue te sê: “Jý kom na my toe met 'n dolk en 'n spies en ’n swaard wat my wil intimideer, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige. Vandag sal Hy jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan.”
 
God verander nooit nie. Dieselfde God wat aan Dawid die oorwinning gegee het, kan dit aan jou ook gee.
 
Gebed:Vader God, baie dankie dat U my nooit alleen los om teen die reuse in my lewe te veg nie. Help my om, soos Dawid, my oë op U te hou in elke situasie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
Next article: God genees ons wonde - 13 November 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.