God seën ons honderdvoudig - 12 November 2026
Benescke Janes van Rensburg
Isak het toe in dié land gesaai en daardie jaar honderdvoudig gewen, want die Here het hom geseën. Genesis 26:12, 1933/1953-vertaling
Wanneer het jy laas deur die boek Genesis gelees? Die verhaal van Abraham, Isak en Jakob fassineer my. Keer op keer sien ons hoe God hulle kies, lei, beskerm en toets – en hoe Hy hulle seën.
Dit bring ons by vandag se teksvers.
Daar was ’n hongersnood in Gerar waar Isak gewoon het. Die mense rondom hom het begin wegtrek Egipte toe. God beveel hom egter om in die land te bly en belowe dat Hy hom sal seën. Tog het Isak ’n keuse gehad: Hy kon óf sy eie kop volg óf hy kon God vertrou.
Isak kies om God te vertrou. Hy saai, al lyk dit asof alles teen hom is. En dan, teen alle verwagtinge het hy daardie jaar ’n honderdvoudige opbrengs gehad. Hoekom? Want die Bybel sê: God het hom geseën.
In hierdie stadium is daar ’n paar dinge waaroor mense bekommerd is – die stygende brandstofprys, kospryse en elektrisiteit. Sommige vra selfs: Hoe gaan ek deur die maand kom? In sulke oomblikke voel ons dalk ook soos die mense in Gerar, bekommerd oor die toekoms. Maar God gee ons ook ’n keuse: Ons kan Hom vertrou of ons kan bekommerd en bang raak en ons eie kop volg.
Luister egter weer na die woorde in Genesis 26:12: “Isak het toe in dié land gesaai en daardie jaar honderdvoudig gewen, want die Here het hom geseën.”
Mag hierdie woorde jou vandag bemoedig om God te vertrou, selfs wanneer jou omstandighede onseker lyk. Dieselfde God wat Isak deur ’n tyd van hongersnood gelei het, is vandag steeds by jou – en Hy sien geloof raak en seën dit.
Gebed: Vader God, dankie dat U by ons is, selfs in moeilike seisoene. Help ons om U te vertrou en gehoorsaam te wees, ook wanneer ons nie die uitkoms kan sien nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.