God gee nuwe asem - 6 November 2026
Benescke Janse van Rensburg
Maar dit is die gees in sterflinge en die asem van die Almagtige wat aan hulle insig gee. Job 32:8, 2020-vertaling
Hoe lank dink jy kan jy jou asem ophou? Een minuut? Twee? Dalk drie? Verlede jaar het Vitomir Maričić, ’n vryduiker van Kroasië, ’n nuwe wêreldrekord opgestel. Hy het sy asem vir ’n verstommende 29 minute en 3 sekondes onder water opgehou!
Vitomir het nege maande lank vir hierdie uitdaging voorberei. Voordat hy onder die water ingegaan het, het hy vir ongeveer tien minute suiwer suurstof ingeasem. Dit het sy liggaam gehelp om ’n groter suurstofvoorraad op te bou, wat hom in staat gestel het om baie langer sonder asemhaling te bly. Hy het sy vorige rekord met meer as vyf minute verbeter!
Hierdie verhaal het my laat dink aan die krag van God se Woord en die werking van die Heilige Gees in ons lewens.
Net soos Vitomir sy liggaam vooraf met suurstof voorberei het, het ons ook nodig om ons geestelik voor te berei vir die uitdagings van die lewe. Nie een van ons is gevrywaar van moeilike tye nie. Hoe meer ons God se Woord lees, met Hom in gebed praat en ons deur die Heilige Gees laat lei, hoe meer leer ons om op Hom te vertrou wanneer die druk toeneem.
Die Woord help ons om waarheid van leuens te onderskei. Die Heilige Gees lei ons wanneer ons nie weet watter rigting om in te slaan nie. En God se teenwoordigheid gee ons die krag om aan te hou wanneer ons eie krag min raak.
Luister weer na Job 32:8: “Maar dit is die gees in sterflinge en die asem van die Almagtige wat aan hulle insig gee."
Ware wysheid en insig kom nie bloot uit ons eie vermoëns nie. Dit is God wat ons verstand verlig en ons help om dinge vanuit sy perspektief te sien. En Jesus het belowe dat die Heilige Gees ons sal leer en aan sy woorde sal herinner (Johannes 14:26).
Dalk staan jy vandag voor ’n moeilike besluit. Dalk voel jy oorweldig deur alles wat in jou lewe gebeur. Of dalk is jy eenvoudig geestelik moeg. Moenie wag totdat jy geestelik uitasem is voordat jy na God toe draai nie. Maak elke dag tyd om in sy teenwoordigheid asem te skep.
Gebed: Vader God, baie dankie vir die gawe van u Heilige Gees. Help my om elke dag tyd in u Woord en teenwoordigheid deur te bring. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.