In die gesin van God ingeënt - 20 Oktober 2026
Imogen Campbell
En as 'n aantal van die takke van die mak olyfboom uitgebreek is, en jy, die wilde olyf, tussen die takke ingeënt is, en so aan die voedingskrag van die mak olyfboom se wortel deel gekry het, moet jy nie teenoor die ander takke spog nie. As jy wel spog – jy ondersteun nie die wortel nie, maar die wortel jou. Romeine 11:17-18, 2020-vertaling
"The Church's one foundation, Is Jesus Christ her Lord;
She is his new creation, By water and the word;
From Heav'n he came and sought her, To be his holy bride;
With his own blood he bought her, And for her life he died."
Ek was verbaas om te hoor dat hierdie bekende Engelse kerklied "The Church's One Foundation", sy ontstaan te danke het aan 'n teologiese verskil wat die kerk verdeel het en wat in 1866 reg hier in Suid-Afrika plaasgevind het. Die lied is geskryf om gelowiges te help om aan die bybelse waarhede vas te hou. (https://www.youtube.com/watch?v=TmdIh4M7jSQ)
Van die Kerk se fondament gepraat, Openbaring 21 verwys na die Nuwe Jerusalem, die stad van God, wat versier is soos 'n bruid vir haar man. Die Kerk, die bruid van God, is op die fondament van die apostels, almal Joodse mans, gebou.
"So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar julle is medeburgers van die heiliges, en lede van die huisgesin van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, met Christus Jesus self as hoeksteen." (Efesiërs 2:19-20)
In "Finding Messiah" skryf Jennifer M Rosner: "Dat Jesus Joods is, maak saak. Jesus het gekom as die klimaks van 'n spesifieke verhaal van spesifieke mense, en daardie verhaal en mense maak steeds saak vir God. Wanneer ons hierdie sin van kontinuïteit uit die oog verloor, loop ons die gevaar om onsself af te sny van die verhaal wat God steeds vertel." [vry vertaal]
Ek is nog altyd gefassineer deur die verskillende verbonde wat God met Israel gesluit het, veral die een in Genesis 17:7 waarna God as 'n ewige verbond verwys het. Hoe sien ons God se verhouding met Israel in verhouding tot die kerk van vandag?
Na heelwat navorsing oor 'n tydperk het ek Jennifer Rosner se boek baie insiggewend gevind, maar ek beveel egter steeds persoonlike Bybelstudie sterk aan. Neem 'n mens in ag dat in Jesaja 54:5 God Homself as Israel se man beskryf, skryf Jennifer verder: "As God so maklik sy verbond met Israel kon opskort, wat waarborg sy ewige trou met die nuwe verbondskinders?" [Vry vertaal]
God het die huwelik met een vrou ingestel. Watter implikasies hou dit vir vandag in? Sy vra: "As Hy sy vorige liefde kon laat vaar, hoe weet Christene dat sy getrouheid betroubaar is? In kort, God se wese is hier op die spel."
Ten slotte, skryf sy: "As die kerk sy eie identiteit werklik wil verstaan, moet dit die verbondsliggaam waardeur Christus dit met mekaar verenig, verstaan." [Vry vertaal]
Die Woord van God is so ryk. Daar is genoeg om te ontgin vir 'n leeftyd se Bybelstudie.
Gebed: Here, ek verwonder my oor u planne deur die eeue heen. Dankie dat U ons, kinders van die nuwe verbond, u Kerk op aarde, steeds gebruik om versoening met U wêreldwyd te bevorder. Hoe wonderlik! Amen