Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Seuns van die donder, Jesus se beste vriende - 16 Oktober 2026

Imogen Campbell
 
Toe die dissipels Jakobus en Johannes dit sien, sê hulle: “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel laat neerkom om hulle te vernietig?” Maar Hy het omgedraai en hulle tereggewys. Hulle het toe na 'n ander dorpie gegaan. Lukas 9:54-56, 2020-vertaling
 
Jesus se dissipels was 'n redelike uiteenlopende klomp. In sy boek, "No wonder they call him the Savior", beskryf Max Lucado hulle daar in die bovertrek na die kruisiging soos volg: “… you wouldn’t take them for a bunch who are about to put the kettle of history on high boil. Uneducated. Confused. Callused hands. Heavy accents. Few social graces. Limited knowledge of the world. No money. Undefined leadership.”
 
Die Bybel vertel van 'n keer toe Jesus vir Petrus gesê het: “Gaan weg agter My, Satan!" (Matteus 16:23) Ons almal weet hoe impulsief Petrus was. Wel, daar was nog twee ander in die binnekring. Jesus het volgens Markus 3:17 hulle die naam Boanerges gegee wat "seuns van die donder" beteken.
 
Die broers is veral bekend vir die keer toe hulle, soos Elia van ouds, vuur op 'n klomp oneerbiedige Samaritane wou laat neerkom. Jesus het hulle egter gou tereggewys.
 
Op 'n dag het die vraag ontstaan of hulle twee weerskante van Jesus in die hemel kon sit. Nie so 'n onwaarskynlike moontlikheid nie as in ag geneem word dat Salome hulle moeder was. Volgens Christentradisie was sy die suster van Maria, Jesus se moeder.
 
Hierdie vurige persoonlikhede was teenwoordig tydens Jesus se verheerliking, en Jesus het hulle ook saamgeneem toe Hy daardie nag in Getsemane gaan bid het.
 
Hulle familie was waarskynlik invloedryk, selfs in Jerusalem. Die Bybel sê dat die dissipel wat aan die hoëpriester bekend was – na alle waarskynlikheid Johannes – het toegang tot die voorhof van die tempel gehad. Hy het dan ook vir Petrus toegang gereël. (Johannes 18:16)
 
Wat my die meeste verbaas, is dat die jong, vurige Johannes die dissipel was wat later so breedvoerig in sy briewe oor die liefde geskryf het.
 
Van 'n "seun van die donder" tot een vol deernis. Daar word wyd geglo dat Johannes, aan wie die versorging van Maria toevertrou is, die langslewende apostel was. Petrus, Johannes en Jakobus, het talle take vir Christus verrig, maar hulle het ook vir Hom gely. Hulle is onder andere gevange geneem.
 
Jakobus se marteldood, hy is "met die swaard" doodgemaak (Handelinge 12:2), is vir ons in die Bybel opgeteken – anders as die marteldood van so baie ander waarvan ons volgens vroeë Christengeskrifte bewus is. Max Lucado vat dit goed raak as hy skryf: "Something stirs within the soul of a man who has stood within inches of God.”
 
O, dat my hart ook met sulke ywer vir God kan brand. Hoe toegewyd is jy?
 
Die lewe van hierdie manne is 'n getuienis van wat die Pottebakker kan doen met die klei tot sy beskikking.
 
Gebed: Here, baie dankie vir die veranderende werk van u hande, dat U ons, doodgewone mense, neem en ons geskik vir u koninkryk maak. Amen
Next article: Petrus, na alles nie so onkundig nie - 15 Oktober 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.