Hoop kole vir die braai - 14 Oktober 2026
Imogen Campbell
Toe sê Petrus vir Hom: “Here, hoekom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U aflê.”
“Sal jy jou lewe vir My aflê?” vra Jesus. “Dít verseker Ek jou: Nog voor die haan kraai, sal jy My drie keer verloën.” Johannes 13:37-38, 1983-vertaling
Die Suid-Afrikaanse braai is 'n soort van 'n instelling, 'n nasionale tydverdryf wat 'n bron van groot trots en vreugde is. Maar wat het gebeur toe Jesus die "Braaimeester" was, die een wat 'n vinnige visbraai voorberei het?
Die gebeurtenis wat in ons teksgedeelte beskryf word het die nag toe Jesus verraai is plaasgevind en toe Hy openbaar het watter een van die twaalf apostels Hom sou verraai.
'n Ietwat impulsiewe Petrus het verklaar dat Hy sy lewe vir Jesus sou aflê. Jesus het hom egter vinnig geantwoord dat hy nog voordat die haan kraai Hom drie keer sou verloën.
In Johannes 18 lees ons hoe Petrus Jesus, na Hy gevange geneem is, gevolg het tot in die binnehof van die plek waarheen hulle Hom geneem het. Hy het homself by 'n vuur verwarm en daar het hy Jesus drie keer verloën. Die Lukas Evangelie beskryf dit soos volg: "Maar Petrus sê: “Man, ek weet nie waarvan jy praat nie!” En onmiddellik, terwyl hy nog praat, het daar 'n haan gekraai. Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk. Toe val dit Petrus by wat die Here vir hom gesê het: “Voordat die haan vannag kraai, sal jy My drie maal verloën.” En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil." (Lukas 22:60-62)
Ek kan my nie eers voorstel hoe Petrus moes gevoel het toe hy in Jesus se oë gekyk het nie. Hoe verskeur moes sy hart nie gewees het toe Jesus gekruisig is en dit gelyk het of daar geen kans sou wees om sake reg te stel nie.
Dit is ook Lukas wat ons vertel hoe Petrus na die graf gehardloop het nadat die vroue die dissipels kom vertel het dat Jesus opgestaan het. In Markus 16:7 lees ons dat die jongman in die graf vir die vroue gesê het om die nuus aan die dissipels en aan Petrus in die besonder, te gaan vertel. God het seker gemaak dat hierdie weerspannige dissipel wat so 'n groot behoefte aan vergifnis gehad het, ingesluit word.
In die laaste hoofstuk van die boek van Johannes waar daardie beroemde visbraai op die strand vir ons beskryf word is daar weer 'n vuur met 'n hoop kole. Die Griekse woord vir hierdie tipe vuur "anthrakia", word slegs in twee gevalle in die Bybel gebruik – hier en vir die vuur waar Petrus hom verwarm het toe hy Jesus verloën het.
Dit is opmerklik dat ons nou weer met visvang te make het, soos toe Jesus Petrus as een van sy dissipels geroep het. (Lukas 5:1-8) Hierdie keer was dit hoe Jesus gekies het om Petrus te herstel. Hy het hom gevra om Hom drie keer te antwoord – een vir elke keer wat hy Hom verloën het. En ja, dit het Petrus diep geraak.
Maak jy ook soms dramatiese geloofsverklarings? Is jy bekend as iemand met 'n "goeie hart" maar is soms impulsief en onbetroubaar?
Skep moed, hierdie is die storie van 'n man wat uiteindelik die fondament van die Christelike geloof geword. Jesus self het gesê: "En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou ..." (Matteus 16:18)
Gebed: Hemelse Vader, deur Jesus wys U vir ons dat U in ons glo en ons liefhet. Dankie dat U ons deur alles liefhet. Amen