Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Maria, die moeder van Jesus - 6 Oktober 2026

Imogen Campbell
 
Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat weerspreek sal word. So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom. En wat jou betref, 'n swaard sal deur jou siel gaan.” Lukas 2:34-35, 1983-vertaling
 
Stel jou voor hoe die skinderbekke van Maria se tyd te kere gegaan het toe hulle uitvind dat sy verwag. Psst, het jy gehoor Maria is swanger? Oë rol en daar word sarkasties gesê: "En sy sê by die Heilige Gees nogal." Daar was waarskynlik geen einde aan die spottery nie. En dit was maar net die begin.
 
In alle regverdigheid hoe kon hulle geweet het dat sy geboorte sou gee aan Immanuel, God wat mens geword het?
 
Sy was waarskynlik vir 'n groot deel van haar lewe, sekerlik van daardie dag toe die engel die bly nuus aan haar gebring het, dikwels eensaam, geïsoleer en misverstaan.
 
Maria was die vrou aan wie God sy enigste Seun toevertrou het. Dink vir 'n oomblik daaroor – God, die Almagtige, kies haar Joodse gesin om Jesus in Israel in 'n afgeleë stowwerige gehuggie groot te maak.
 
Inderdaad, 'n swaard het deur haar siel gegaan. Haar reputasie wat miskien bevraagteken is, was in sterk teenstelling met haar gehoorsaamheid. Onlangs het ek vir 'n oomblik gewonder wat haar pa gesê het. Of haar ma? Daar is geen rekord daarvan nie, miskien omdat sy toe reeds aan Josef verloof was.
 
Sy was egter nie die enigste een wat deurboor is nie. Dit is aangrypend om Johannes se weergawe in Johannes 19:34 te lees: "Maar een van die soldate het met 'n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom."
 
Gebroke het Maria gestaan aan die voet van die kruis met die opskrif: "Jesus van Nasaret, die koning van die Jode." Sy was by Hom reg aan die begin tot reg aan die bitter einde. En meer as enigiemand anders het sy daardie dag, toe die aarde geskud en die rotse uitmekaar gebars het, geweet wie gekruisig is. Het sy vermoed dat dinge so sou "eindig"?
 
Ek wonder wat het daardie verskriklike dag deur haar gedagtes gegaan. Watter angs was daar in haar siel? Watter woorde het Jesus se aardse moeder toe tot God gebid? Het sy diegene verwyt wat haar seun in sy oomblik van die ergste lyding klaarblyklik verlaat het?
 
Van alle vroue het Maria sekerlik die reg gehad om te vra: "Hoekom Here?" Ek vra dikwels hierdie vraag wanneer ek nie sy plan verstaan nie. En jy?
 
Prys die Here, dit eindig nie daar by die kruis nie. Ek wonder wat het Maria vir Jesus na die opstanding gesê. Wat 'n wonderlike ontmoeting moes dit nie gewees het nie!
 
Gebed: Here, help ons asseblief om ons met onwrikbare geloof volkome aan U oor te gee, soos Maria toe sy haar in situasies bo menslike begip bevind het. Amen.
Next article: Die verhaal van heerlikheid - 5 Oktober 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.