Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Jy is nie alleen nie: Ek is by jou - 1 Oktober 2026

Imogen Campbell
 
Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou. Jesaja 41:10, 1983-vertaling
 
“The winter of our discontent” is 'n aanhaling van Richard III wat kom uit sy beroemde openingsalleenspraak in Shakespear se gelyknamige drama.
 
Ek het so pas my eie "droë seisoen" in die wildernis beleef: 'n tyd wat niks wou uitwerk soos ek gehoop het nie en God veral baie ver weg gevoel het. My gebede is nie beantwoord nie, altans so het ek gedink.
 
Ek weet egter ek is nie alleen nie. Die Bybel leer ons om tye te verwag waar ons in ons geloofslewe getoets word. Soms kan sulke tye lei tot 'n gevoel van gebrokenheid, eensaamheid en verwerping.
 
Selfs wanneer ons bewyse het wat vir ons op die teendeel dui, wil God regdeur sy Woord dat ons moet verstaan dat Hy elke tree van die lewenspad by ons is. Dit is in wese die goeie nuus van die Bybel: dat God mens geword het en by ons kom woon het.
 
"Meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik ... Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!" (Lukas 2:9,11)
 
Ja, dit klink baie soos Kersfees, of hoe? Hierdie bybelse tema van God wat by sy volk woon, word dikwels beskryf met die Joodse term "Shekinah", afgelei van die Hebreeuse woord "shakan", wat "om te woon" beteken.
 
Hierdie tema van God wat by sy volk woon, word pragtig weergegee in die Loofhuttefees (Soekkot) wat tans volgens die Joodse kalender, gevier word.
 
Deur hutte te bou en vir sewe dae daarin te woon, erken Jode dat God voorsien en sekuriteit bied in onseker, ongemaklike tye. Soos Israel van ouds deur die woestyn getrek het, het God hulle bedags deur 'n wolkkolom gelei en snags deur 'n vuurkolom. So het Hy leiding verskaf en ook sy teenwoordigheid by hulle bevestig.
 
Wanneer ons beangs of verslae voel, behoort die waarheid dat God by ons is ons harte te deurdring. Mag ek en jy, deur God se Woord, troos ontvang in die wete dat ons nie alleen is in ons stryd nie. God is by ons deur al ons beproewings, self wanneer Hy stil en ver voel.
 
Te midde van dit alles, kan ons kyk na die lewens van manne en vroue van ouds wat met God omgegaan het, en lesse uit hulle lewens leer. Mag die realiteit van God se teenwoordigheid wat hulle lewens gevorm het, ons harte binnedring.
 
Gebed: Here, U het ons so lief dat U self 'n mens geword het om daardie liefde te bewys. Dankie dat U tot die uiterste gegaan het om ons te bereik. Amen.
 
Next article: God is ewig - 30 September 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.