Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God is genadig - 29 September 2026

Ben Fourie
 
Tog is die Here gretig om julle genadig te wees en wil Hy Hom oor julle ontferm ... Die Here sal jou genadig wees as jy na Hom roep om hulp, Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor. Jesaja 30:18a,19b, 1983-vertaling
 
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
1 Korintiërs 1:3, 1983-vertaling
 
As ons alles wat ons van God weet met een woord kon omvat, is dit die woord genade. Oor die genade van God is al duisende boeke en artikels geskryf en preke gelewer en tog kan 'n mens nie daaroor uitgepraat raak nie. Seker die beste beskrywing van wat die begrip alles inhou, is vir my die woorde van die baie bekende lied: “Genade onbeskryflik groot het u aan my bewys. Verlore seun, 'n wegloopkind, weer in die Vaderhuis.”
 
Jesaja is besig om die volk van God ernstig aan te spreek omdat hulle 'n “weerbarstige” volk is, “mense wat lieg” en “wat weier om te luister na wat die Here wil”. Hulle is 'n volk wat wil “skuil in die skadu van Egipte” en 'n “rebelse volk”. Dit is dus verstaanbaar dat God straf aankondig, maar bo die straf styg sy genade uit: “Tog is die Here gretig om julle genadig te wees” en “Die Here sal jou genadig wees as jy roep om hulp”.
 
Dit is inderdaad onbeskyflike genade, genade wat die verstand te bowe gaan wanneer God gretig is om Hom oor die volk wat Hom verwerp het te ontferm en hulle gebed te verhoor as hulle maar net na Hom sou roep.
 
In die Nuwe Testament sien ons die gevolge van God se gretigheid om Hom oor sy volk te ontferm, maar Hy gaan baie verder as net die volk Israel wanneer hy Hom in Jesus Christus oor die hele mensdom ontferm. So word ek en jy ook ingetrek in die sirkel van mense vir wie God gretig is om genade te betoon tot by die punt waar Paulus vir God se nuwe volk kan sê: “Genade vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!”
 
Luister weer na die woorde van die lied. Dit sê: “Genade onbeskryflik groot het U aan MY bewys.”
 
Gebed: Here, ons staan in verwondering oor die groot genade wat U vir ons present gegee het. Baie, baie dankie. Amen
Next article: God is liefde - 28 September 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.