God troos ons - 22 September 2026
Ben Fourie
Onthou tog u woord aan my, die woord waarop U my laat hoop het. Dit is my troos in my ellende: dat u belofte my in die lewe hou. Psalm 119:49-50, 1983-vertaling
En mag julle in al die goeie wat julle in woord en daad doen, bemoedig en gesterk word deur ons Here Jesus Christus en God ons Vader. Hy het aan ons sy liefde bewys en aan ons deur sy genade 'n blywende troos en goeie hoop gegee. 2 Tessalonisense 2:16-17, 1983-vertaling
Vyfuur een oggend staan ek voor die deur van twee ouerige mense. Die boodskap wat ek vir hulle moes oordra was dat hulle laatlam dogter 'n paar uur vroeër haar eie lewe geneem het. Dié dogter sou hulle twee se vreugde wees in hulle oudag, maar nou was daar niks.
Waar kom die troos vir mense in sulke omstandighede vandaan? Kan hulle getroos word? Nie almal van ons beleef miskien ooit sulke intense hartseer nie, maar baie van ons het iewers 'n verhaal van hartseer en verlies, of dalk lê so 'n verhaal nog iewers in ons toekoms. Ons gesin het ons eie verhaal van groot hartseer met die dood van ons skoonseun op 'n jong ouderdom.
Die opskrif wat Bybelvertalers vir Psalm 119 gegee het is baie passend: “U woord vergeet ek nie.” In ons teksvers skryf die digter dat hy in die ellende was. Wat sy ellende was, weet ons nie, maar die woord ellende dui op 'n erge krisis. In hierdie krisis is al wat hom in die lewe hou, die beloftes van God. Dit is en bly vandag nog die groot troos wanneer ons deur diep waters gaan. Ons as gesin kan daarvan getuig.
Dit is net een kant van die verhaal. Benewens troos in hartseer en krisis, het ons dikwels op geestelike gebied troos nodig. Kyk hoe mooi sluit Paulus se woorde aan die gelowiges in Tessalonika by Psalm 119 aan. Soos in die psalm, noem Paulus ook “ 'n blywende troos en goeie hoop”. Op die dae wanneer dit nie so goed gaan met ons “woord en daad” nie, die kere wanneer gewone alledaagse dinge in ons lewe ons moedeloos en gedaan maak, of as ons geloof self ernstig op die proef gestel word, kom God en troos en gee ons weer goeie hoop.
Gebed: Liewe Vader, ons is maar net klein kindertjies wat ons lewensknieë gereeld stukkend val en dan nie sonder u groot liefde en troos weer kan heel word nie. Baie dankie dat U altyd gereed is om ons te troos. Amen.