God voorsien - 17 September 2026
Ben Fourie
Toe het die Here vir Moses gesê: "Let nou mooi op. Ek sal elke keer vir julle kos uit die hemel laat reën." Eksodus 16:4a, 1983-vertaling
En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. Filippense 4:19, 1983-vertaling
Die woordeboek sê die woord “voorsien” beteken om vir iemand iets gee; voorsorg te tref; sorg vir; verskaf. As ons na bogenoemde definisie kyk, is die idee dat God voorsien, gelaai met betekenis. In die Heidelbergse Kategismus word die gedagte van God as voorsiener volledig beskryf.
Die Kategismus vra by Sondag 10: “Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?” Die antwoord is dan: “Die almagtige en oralteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer, dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.”
In die twee konkordansies wat ek geraadpleeg het, word die woord voorsien meesal gekoppel aan die verskaffing van lewensmiddele soos wat ons teks uit Eksodus ook aandui. In die bekende verhaal van die manna en kwartels wat letterlik uit die hemel geval het, kom God se wonderwerkende voorsiening aan sy volk na vore.
In Filippense kry ons egter ook die verdere perspektief dat dit om meer gaan as net ons daaglikse behoeftes aan kos, klere, 'n blyplek ensovoorts. Dit gaan ook oor ons geestelike behoeftes. Dit alles gee Hy nie omdat Hy ons iets skuld nie, maar omdat Hy uit sy “wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus” vir ons in elke behoefte, of dit stoflik of geestelik is, wil voorsien wat ons nodig het.
Maar daar is nog meer. God se almag en alomteenwoordigheid kom veral te voorskyn in sy voorsiening, onderhouding en regering oor die hele skepping soos die Heidelbergse Kategismus dit baie mooi stel.
Gebed: Hemelse Vader, as ons aan u voorsienigheid dink, kan ons ook maar net saam met Paulus uitroep. O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God. Hoe ondeurgrondelik is u oordele en onnaspeurlik u weë. Amen.