Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God is geduldig - 15 September 2026

Ben Fourie
 
Barmhartig en genadig is die Here, geduldig en oorvloedig in troue liefde.  Psalm 103:8, 2020-vertaling
 
Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink part mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer. 2 Petrus 3:9, 1983-vertaling
 
Geduld, o geduld wat so baie kan dra, het my moeder baie dae gesê as ons drie kinders die lewe vir haar moeilik gemaak het. Geduld is ook volgens Galasiërs 5:22 deel van die vrug van die Gees. Dit is 'n eienskap wat ons seker almal wens om te besit, maar in ons gejaagde samelewing kan ons ook maar goed ongeduldig raak met baie dinge en veral met mense.
 
Gelukkig sê die Bybel dat God baie geduld met ons het. In beide verse word God se geduld met ons in samehang met ander van sy eienskappe genoem, almal eienskappe wat van sy liefde vir ons getuig. Barmhartig en genadig, geduldig en oorvloedig in troue liefde sê Dawid in Psalm 103. Die woorde is 'n aanhaling uit Eksodus 34:6 wanneer die Here met Moses praat. In die vers uit Eksodus (1983-vertaling) word die mooi woord "lankmoedig" gebruik om te wys dat God oneindige geduld het met die wederstrewige volk daar in die woestyn. Soos wat hulle gekla het en ontevrede was met alles, sou 'n mens nie vir God kon kwalik neem as hy hulle net daar gelos het nie, maar sy geduld is groot, hulle is sy uitverkore en geliefde volk.
 
Petrus bevind hom in dieselfde posisie as Moses. Mense begin kla en is ontevrede omdat die wederkoms nog nie plaasgevind het nie. Ook in hierdie geval sou 'n mens kon verwag dat God se geduld met hulle sou opraak. Dit was immers Sy besluit en sy besluit alleen oor wanneer die wederkoms sou plaasvind. Maar wat sê Petrus? “Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore moet gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer”.
 
Baie gelowiges kla vandag ook oor wat die kerk doen, praat kwaad van ander, vertrou nie vir God nie, is lui om Sondag die erediens by te woon. Ten spyte hiervan bly God geduldig met ons en skep vir ons telkens geleenthede om nader aan Hom te kom.
 
Gebed: Ons dank U, liewe Vader, dat U nie lankal geduld met ons verloor het nie, maar elke oomblik van die dag daarna soek dat ons nader aan U sal kom. Amen.
Next article: God is onveranderlik - 14 September 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.