God is alwetend - 4 September 2026
Ben Fourie
Ons Here is groot en magtig, sy kennis is onbegrens. Psalm 147:5, 1983-vertaling
As ons gewete ons veroordeel – God is groter as ons gewete, en Hy weet alles. 1 Johannes 3:20, 1983-vertaling
As kinders moes ons dikwels hoor dat ons nie moet stout wees, of lelik praat, of lelike goed dink nie, want God is alwetend. Alhoewel ons nie die woord geken het nie, het ons darem verstaan dat God van alles wat jy doen of sê, weet. Ons het selfs gehoor dat alles wat ʼn mens sê of doen in ʼn groot boek geskryf word en as jy die dag doodgaan, sal jy moet gaan verduidelik oor dit alles.
Die woord “alwetend” kom nêrens in die Bybel voor nie, maar is ʼn woord wat geskep en veral op God van toepassing gemaak word om ʼn baie belangrike kenmerk van Hom te wys. ʼn Internet definisie sê: “die vermoë om oor alle kennis te beskik, die kwaliteit om alles te weet.”
ʼn Mens kan die feit dat God alles weet soms baie negatief sien. Dan word God iemand wat gedurig oor jou skouer loer om te sien of jy nie iewers ʼn misstappie begaan nie. Die Bybel waarsku ons natuurlik ernstig dat ons nie maar willens en wetens net kan aangaan om kwaad te doen nie, want dit bly natuurlik nie vir God verborge nie.
Wanneer ons egter na ons teksvers uit Psalm 147 kyk, word sy onbegrensde kennis, met ander woorde sy alwetendheid, gekoppel aan sy grootheid en almag. Hierdie twee lees ek altyd as baie positief. Al weet God ook van my sonde, is Hy so groot en almagtig dat Hy my kan en wil vergewe, soos wat aan die kruis deur Christus bewys is. Johannes brei op hierdie gedagte uit wanneer hy ons daarvan bewus wil maak dat al kla ons gewete ons aan oor dit wat ons verkeerd doen, God groter is as ons gewete juis omdat Hy alles weet.
Ons kan niks vir God wegsteek nie, maar gelukkig hoef ons ook niks vir Hom weg te steek nie.
Gebed: Hemelse Vader, waar ons op ʼn stadium in ons lewe dalk bang was dat U alles van ons weet, kan ons as u verloste kinders vandag dankie sê dat U juis alles van ons weet, ook van ons hartseer, ons pyne en probleme. Amen