Lewend vir God: Reg met Hom - 26 Augustus 2026
Louise Gevers
Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie! Psalm 51:13, 1983-vertaling
Ek wonder hoe baie mense wat Psalm 51 ken, keer in moeilike tye daarna terug want hulle het eerlike woorde nodig om hulle te anker. Ek weet ek doen dit. Dit is vir my baie belangrik om te weet dat ek deur die woorde van Dawid my hart voor God kan uitstort, vrede vind en die belofte van Jesaja ervaar: "As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê." (Jesaja 30:15b)
Om reg te leef met God word slegs 'n realiteit wanneer ons sake met Hom regstel deur daagliks ons sonde te bely. Wanneer ons in sy teenwoordigheid is en ons gewete ondersoek, begin ons gou die verskil tussen net jammer wees en ware berou sien – en ontdek ons die vryheid wat ware berou bring.
Psalm 51 is een van die duidelikste en ernstigste uitdrukkings van berou in die Bybel. Begrip vir Dawid se angs, laat ons hom beter verstaan. Na sy owerspel met Batseba en die reël van die moord op haar man, Uria, konfronteer die profeet, Natan, hom. Dawid verdedig homself nie, hy blameer ook nie iemand anders of probeer om sy skuld te verminder nie. Selfs al is hy die koning, weet Dawid dat God sy sonde raaksien vir wat dit is.
Dawid is nie net jammer dat hy uitgevang is nie. Hy het berou oor wat hy gedoen het, skaam dat hy teen God self gesondig het. "Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë." (Psalm 51:6a) Alle sonde, selfs teen ander, is uiteindelik sonde teen God na wie se beeld ons gemaak is.
Miskien is dit 'n geval van hoe groter ons skuld, hoe groter is ons angs voor God – en hoe werkliker ons berou. Wanneer ons ons sonde erken en bely, verdwyn die wig wat dit tussen ons en God ingedryf het, want Hy vergewe ons en herstel ons verhouding met Hom. Soos Dawid, moet ons ons behoefte aan genade verwoord en ontvanklik wees vir die ontvang daarvan.
Dawid was nie bang om sy troon of reputasie te verloor nie – maar wel die nabyheid van God. Die vers wat dit duidelik vasvang is vers 13: "Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie!"
Deur net te probeer om straf vry te spring, is nie ware berou nie. Ware berou is 'n volkome wegdraai van die sonde en 'n terugkeer na God met 'n veranderde hart – een wat berou het oor die gebroke verhouding met Hom aan wie ons behoort, of met ander wat ons seergemaak het, en ook na sy beeld gemaak is. Dit is hoekom om vergifnis te vra van diegene teen wie ons verkeerd opgetree het, so belangrik is. Berou herstel verhoudings, nie die besluit nie.
Gebed: Hemelse Vader, leer my oor ware berou wat nie net gaan oor jammer sê nie, maar wat my hart sal verander. Wanneer ek sondig, help my om nie net jammer te wees omdat ek uitgevang is nie, maar om berou te toon oor wat my sonde my verhouding met U en diegene teen wie ek gesondig het, aandoen. "Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig." (Psalm 51:12) Amen