Dankbaar vir genadegawes om te dien - 22 April 2026
Ewald Schmidt
As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy 'n genadegawe ontvang het, die ander dien. 1 Petrus 4:10, 1983-vertaling
Baie gelowiges dink hulle het min om vir die Here te gee. Hulle kyk na hulle eie lewens en sien eerder gebrokenheid as bruikbaarheid: swakhede, mislukkings, beperkte vermoëns. Dan ontstaan die gedagte: Wat kan God regtig met my doen?
Maar die evangelie wys vir ons 'n ander perspektief. Die Here roep nie net 'n paar spesiale mense om Hom te dien nie. Hy gee aan elke gelowige genadegawes – gawes wat deur sy genade gegee word, nie deur ons verdien word nie.
Petrus sê duidelik: “Elkeen” het 'n genadegawe ontvang. Nie net predikante, ouderlinge of mense met besondere talente nie. Elke kind van God het iets ontvang wat God wil gebruik om ander te dien.
Hierdie gawes kan baie verskillend lyk. Vir party is dit die gawe om te leer of te lei. Vir ander is dit die vermoë om te bemoedig, om gasvry te wees, om prakties te help, om te luister, om te bid. Party gawes word op 'n verhoog gesien; ander gebeur stilweg agter die skerms. Maar elkeen is kosbaar in God se koninkryk.
Wat besonders troosvol is, is dat God nie wag totdat ons perfek is voordat Hy ons gebruik nie. Hy gebruik gewone mense met gebroke lewens. Dink maar aan die dissipels: mense met swakhede, twyfel en foute – en tog het God deur hulle die evangelie oor die wêreld laat versprei.
Dit beteken die Here kan ook my lewe gebruik, selfs met al my gebrokenheid. My hande mag gebroke wees, maar in sy hande kan dit nog steeds dien. Die gawes wat Hy gee, is nie bedoel om ons belangrik te laat lyk nie, maar om ander te seën en om sy genade sigbaar te maak.
Petrus noem ons daarom “bedienaars van die veelvoudige genade van God”. God se genade het baie kleure en vorme, en Hy wys dit deur sy mense. Elke keer wanneer 'n gelowige sy of haar gawe gebruik om iemand anders te dien, word iets van God se genade sigbaar.
Dankbaarheid vir genadegawes beteken dus dat ek nie my gawes vir myself hou nie. Ek bring dit na die Here toe en sê: “Here, gebruik my.” Want selfs gebroke hande kan in sy diens tot groot seën wees.
Gebed: Here, dankie dat U vir my genadegawes gegee het om U en ander te dien. Dankie dat U selfs deur my gebrokenheid kan werk. Help my om my gawes met nederigheid en liefde te gebruik, sodat u genade deur my lewe sigbaar kan word. Amen.