Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Maand van Spreuke - 3 Maart 2026

Ruanne van Zyl
 
Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.  Spreuke 4:23, 1983-vertaling
 
Die hart waarvan hierdie vers praat, is nie net emosies nie, maar die sentrum van ons gedagtes, begeertes en motiewe. Alles wat ons doen, begin hier. Daarom sê God ons moet dit “veral versigtig” bewaak.
 
Ons harte word daagliks beïnvloed deur wat ons sien, hoor en oor dink. Negatiewe woorde, vergelyking met ander, vrees en bitterheid kan stil-stil wortelskiet. As ons dit nie aanspreek nie, begin dit ons houding en optrede beheer. 'n Onbewaakte hart lei tot 'n onrustige lewe.
 
Om jou hart te bewaak, beteken nie om koud of afgesluit te wees nie. Dit beteken om doelbewus te kies wat jy toelaat om jou binneste te vorm. Dit vra dat ons gereeld ons gedagtes aan God se waarheid toets. Wanneer leuens soos “ek is nie goed genoeg nie” of “niks sal verander nie” opkom, moet ons dit vervang met wat God sê.
 
'n Gesonde hart bring lewe. Dit lei tot geduld, liefde en wysheid in moeilike situasies. Wanneer ons hart vol vrede is, reageer ons anders op druk en konflik. Die kwaliteit van ons lewe word dus direk beïnvloed deur die toestand van ons binneste wêreld.
 
God is nie net geïnteresseerd in ons dade nie, maar in wat dit dryf. Wanneer ons Hom toelaat om ons harte te reinig en te vernuwe, verander Hy ons van binne na buite.
 
Gebed: Here, wys my wat in my hart nie van U af kom nie. Help my om my gedagtes te vul met u waarheid en my hart te bewaak sodat my lewe U eer. Amen.
Previous article: Maand van Spreuke - 2 Maart 2026 Prev Next article: Tot sy eer: Hardloop die wedloop! - 27 Februarie 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.