Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Weet waar om krag te soek: Die volheid van God - 10 Desember 2025

Andrea Sieberhagen
 
Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. Efesiërs 3:19, 1983-vertaling
 
As ons dan God se liefde ken – is dit moontlik om die kennis net vir onsself te hou? As ons dan vervul is met die volheid van God – moet ons dan nie oorloop daarvan nie?
 
Moet hierdie wonderlike kennis nie oorspoel na almal rondom ons, sodat hulle ook bewus word en werklik aangeraak word deur die liefde van God nie?
 
As sy liefde so groot is sou dit nie baie selfsugtig wees om dit nie te deel nie?
 
Vol voller volste? Hoe vol kan vol wees? As ons gevul is met die volheid van God gaan die deel daarvan met ander mense ons definitief nie skielik “leeg” maak nie! Inteendeel! Nee! Om God se liefde te deel beteken net dat jy meer bewus word van die volheid binne in jou en dat indien moontlik, daardie volheid net meer en meer word tot jy nie anders kan as om dit te laat oorvloei na jou medemens toe nie!
 
En op dié manier deel jy dan “strome van seën”!
 
Dan sal jy vind dat daar ook iets binne jouself gebeur, want om te deel en iets vir iemand anders te beteken laat 'n mens in jouself nooit onaangeraak nie. Dan word die onwaarskynlike trappe van vergelyking vir jou 'n werklikheid. Dan gooi jy alle taalreëls oorboord en gee jou oor aan die oortreffende trap van die volheid van God want jy weet Hy is in jou, om jou en deel van jou!
 
Gebed:
Mag ek saam met almal wat glo
hierdie waarheid leer verstaan
want sy liefde sonder grense
is bedoel vir alle mense.
 
Next article: Weet waar om krag te soek: Stewige wortels - 9 Desember 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.