Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Verbonde: Lyding – die aard van omgee - 21 November 2025

Louise Gevers
 
“Ontsteltenis dwing my om te antwoord, dit maak my haastig om te praat.  Job 20:2, 1983-vertaling
 
Neem 'n mens in ag dat vandag se teksvers kom uit wat baie geleerdes as die oudste boek in die Bybel beskou, was Salomo seker reg toe hy gesê het: "Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie." (Prediker 1:9b)
 
Gister, toe ons oor die diepte van lyding in die boek Job nagedink het, het al Job se rampe en lyding, veral die eindelose aard daarvan,en al die pyn wat hy in die oënskynlike afwesigheid van God moes verduur, 'n mens werklik ontstel. Ons almal het al die pyn en verlatenheid van verlies beleef, en dan sonder om te verstaan hoekom.
 
Job het tyd benodig om sy hartseer en verlies te verwerk, asook die oor van 'n deernisvolle persoon wanneer hy nodig gehad het om te praat, iemand wat omgee en hom – 'n bedroefde man oordek met pynlike sere wat 'n somber lewe met 'n gevoellose vrou gelei het – sou vertroos.
 
Job, vervreemd van 'n lewe wat eens vol was, sou sekerlik met Moeder Teresa saamstem toe sy gesê het: "Eensaamheid en die gevoel dat mense nie vir jou omgee nie en jou verwerp, is die grootste armoede." Job se ervarings het hom verarm en met 'n behoefte aan hoop gelaat. Hoop het gekom in die vorm van sy drie vriende wat "afgespreek [het] om deelneming met hom te betuig en hom te troos." (Job 2:11)
 
Hulle was geskok oor wat met hulle vriend gebeur het, hom amper eers nie herken nie, maar hulle het geduldig en sonder woorde vir "sewe dae en sewe nagte lank" (Job 2:13) by hom gesit. Hulle het Job se behoefte aan vrede en om sy hartseer en verlies te verwerk, gerespekteer en hulle was net daar vir hom.
 
Uiteindelik het Job gepraat en sy beangste hart uitgestort, wat toe aanleiding gegee het dat die mans hom veroordeel het. Weg was hulle empatie, sy behoeftes vergete, en elkeen van die vriende het sonder nadenke 'n uitspraak oor Job se lyding gelewer. Dit het hom verder vervreem en sy lyding vererger aangesien hulle besluit het hy was te blameer – 'n direkte gevolg van sy sonde – en hy moet sy sonde bely sodat God hom kan herstel.
 
Elifas sê vir hom: “Dit gaan goed met die mens wat deur God tereggewys word. Jy moet nie die bestraffing van die Almagtige verontagsaam nie." (Job 5:17) Bildad beledig hom deur te sê: "Die woorde van jou mond is bloot 'n groot klomp wind" en dan voeg hy wreed by: "As jou kinders teen Hom gesondig het, het Hy hulle aan hulle oortreding oorgelaat." (Job 8:2b,4, 2020-vertaling) Laastens tree Sofar toe en sê: "As God maar wou begin praat en jou wou weerspreek, jou wou vertel hoe ingewikkeld die wysheid is ..." (Job 11:5-6a)
 
Wat doen ons?
 
Wat sê ons vir 'n vriend in nood? Help ons ander deur woorde en dade gedring deur liefde, en nadat ons daaroor nagedink het, of "[dwing] ontsteltenis [ons] om te antwoord, maak [dit ons] haastig om te praat", soos Sofar? Ons moet die Here vra vir hulp en insig, want ons het nie al die antwoorde nie.
 
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir dit wat U ons deur Job en sy vriende van onsself wys en leer. Help my om met deernis te reageer op ander in nood, nie gemotiveer deur my eie angs nie, maar in die krag en wysheid wat U gee en wat hulle harte en verstand sal verlig en blydskap sal bring. Amen
Next article: Verbonde: Lyding verander perspektief - 20 November 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.