Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Verbonde: Hoop te midde van hartseer - 19 November 2025

Louise Gevers
 
Dit is daarom dat ek so huil, dat die trane uit my oë stroom. Daar is geen trooster naby nie; my bevolking is verslaan, die vyand het die oorhand gekry. Klaagliedere 1:16, 1983-vertaling
 
'n Aantal jare gelede het ek geskok op TV-nuus beeldmateriaal gesien van 'n betoging wat in my tuisdorp uitgebreek het, hoe plekke waarheen ek gereeld gegaan het vernietig word, terwyl die skreeuende massas winkels beroof, alles wat hulle kon aan die brand steek en soos hulle deur die stad beweeg, verskillende dele op verskillende tye aanval. In my hart was ek onmiddellik daar, 'n diepe angs vir die mense het my oorval en ek was met afgryse vervul.
 
Die ellende en trane van die lewe is nie iets vreemd in die Bybel nie; mans en vroue, net soos ons, het dit ervaar – hartseer, pyn, verwerping en angs. Hanna het in die tempel gehuil terwyl sy vir 'n kind gebid het; Josef het in Egipte gehuil toe hy met sy broers verenig is; Dawid roep God aan in sy psalms; Job "pleit ... met trane by God" (Job 16:20) toe sy vriende hom bespot het. Petrus het gehuil toe hy Jesus verraai het; Maria het by Jesus se graf gehuil en Jeremia het baie oor Jerusalem gehuil.
 
Vir Jeremia, die skrywer van die Klaagliedere, was hierdie hartseer 'n werklikheid. Hy het getrou God se boodskappe en eindelose waarskuwings aan die volk van Juda verkondig, maar hulle het dit geïgnoreer. Die tyd van praat was egter verby en die veroordeling het in die vorm van die Babeloniërs gekom. Jerusalem is vernietig en Jeremia se hart was stukkend.
 
In sy klaaglied tot God beskryf die "huilende profeet" Jerusalem as 'n benoude moeder wat treur oor haar gevange kinders wat in ballingskap ly en oor diegene wat in groot ellende en honger agtergelaat is, en te midde van die verlatenheid van die eens vooruitstrewende stad "hulle waardevolle besittings verruil vir kos" (Klaagliedere 1:11). Die vyand het Jerusalem ingeneem, alles wat heilig was ontheilig, en "al haar kosbare dinge van die verlede" (Klaagliedere 1:7) gesteel.
 
Wat 'n kragtige prentjie skets Jeremia nie hier nie. Veg ons nie ook voortdurend teen 'n vyand wat ons na liggaam, verstand en gees, wil verwoes en ons ontneem van alles wat God vir ons beswil voorsien nie? Dit laat ons bedroef en in trane, vervreemd van diegene vir wie ons lief is en uitgehonger vir God se seëninge.
 
Selfs terwyl Jeremia oor hierdie totale verwoesting en verlies treur en kla en hy die bitter smaak van verraad deur sy voormalige bondgenote proe (Klaagliedere 1:11), gee hy homself oor aan selfondersoek, erkenning van sy skuld en die van die volk en toon uiteindelik diepe berou. Hy erken dat hulle ongehoorsaam was, God verwerp en daarom sy woede op die hals gehaal het. "Kyk na my nood, Here! Dit brand in my, ek is verpletter omdat ek so ongehoorsaam was ..." (Klaagliedere 1:20)
 
Jeremia gaan voort om te treur en diep berou te toon, dit laat die lig deur die duisternis breek en hy onthou God se liefde: "... om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut ... Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom." (Klaagliedere 3:21-24)
 
Die lewe is nooit maklik nie. Ons almal leef met die gevolge van die sonde – ons eie, en die van ander. Wanneer die lewe uitmekaar val, onthou God se liefde en hoop op Hom.
 
Gebed: Liefdevolle Vader, wanneer "vreugde verdwyn [het] uit ons hart" en "die kroon van ons kop geval [het]" (Klaagliedere 5:15-16, 2020-vertaling), help ons om ons sonde te bely en te onthou "deur [u] liefde het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan [u] ontferming nie." Dankie, Here, dat "dit elke môre nuut is, u trou is groot. U is my lewe en daarom hoop ek op U." Amen
 
Previous article: Verbonde: Lyding verander perspektief - 20 November 2025 Prev Next article: Verbonde: Groot God, groot geloof - 18 November 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.