God se goeie nuus: Die groot ontsnapping - 26 Junie 2025
Louise Gevers
Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. . God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan. 1 Korintiërs 10:13, 1983-vertaling
Versoeking is reeds, sedert die tyd toe Adam en Eva toegegee het aan die listige slang in die tuin van Eden en aan God ongehoorsaam was, onlosmaaklik deel van die menslike ervaring. Dit steek dikwels op 'n subtiele manier kop uit wanneer ons op 'n laagtepunt is – moeg, honger of siek – en skynbaar nie in staat om die nodige krag en vasberadenheid bymekaar te skraap wat nodig is om die versoeking te weerstaan nie. Hoe moes Jesus nie gevoel het nadat Hy 40 dae in die wildernis gevas het nie!
Versoeking verskyn selde as ons sterk is. Ons beleef hierdie oomblikke meestal wanneer ons moedeloos of teleurgesteld is, deur sonde verlei word en die druk dreig om ons te oorweldig – wanneer ons alleen is en voel daar is niemand wat ons stryd verstaan nie. Tog sien God ons raak.
In vandag se teksvers is dit duidelik dat versoeking deel van die menslike ervaring is, en dat ons almal aangetrek word tot dinge wat nie van God af kom nie, of dit nou openlik of in die geheim is, onskadelik voorkom of boos is, dit alles misken God. Die versoekings wat die Israeliete in die wildernis beleef het, is vandag steeds versoekings; hulle verskyn vandag miskien net in ander gedaantes.
Uit die teks is dit ook duidelik dat God ons stryd ken; "God is getrou" en ons is nie alleen nie – Hy verlaat ons nie in tye van versoeking nie maar, wanneer ons Hom om hulp vra, voorsien Hy wat nodig is vir ons om die versoeking te kan weerstaan. Ons hoef nie die stryd te verloor of ons waardes in 'n oomblik van swakheid te krompromitteer nie (byvoorbeeld jou gesondheid, vrede of gewig). God is by ons en Hy is getrou.
God beloof nie dat Hy die versoeking sal verwyder nie, maar wel dat Hy 'n manier sal voorsien vir ons om daarvan te ontsnap – dit laat ons dus met die verantwoordelikheid om die versoeking te weerstaan. Sy hulp is miskien 'n sagte innerlike fluistering om weg te stap, of 'n vriend wat net op die regte oomblik kontak maak, of die krag om te bid wanneer ons op ons swakste is, of die Bybelvers wat skielik vir ons lewe kry. Hy voorsien wat nodig is vir ons om te vlug of uit te hou, en as oorwinnaars deur die versoeking te kom.
Dink aan Jesus se oorwinning.
Jesus het deur sy lyding bewys dat fisiese krag nie is wat ons nodig het nie, maar dat die beste manier om versoeking te weerstaan en die vyand te verslaan, met die Bybel is. Ons mag miskien nooit weet watter ander versoekings oor Jesus se pad gekom het nie, maar ons weet dat Hy dit sou kon weerstaan – en omdat Hy oorwin het, kan ons ook oorwin.
God is getrou en sy genade is altyd genoeg.
Gebed: Genadige God, dankie dat wanneer ek swak is, U sterk is. Gee dat ek U sal aanroep om versoeking wat oor my pad kom, reg aan die begin te stop deur die krag van u Woord. Amen