Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God se goeie nuus: Hy is ons Vriend vir altyd - 24 Junie 2025

Louise Gevers
 
Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red. Jesaja 46:4, 1983-vertaling
 
Watter aangrypende, vertroostende belofte van God vind ons nie in vandag se teksvers nie. Dit weerspieël God se deernis en liefde vir sy kinders, selfs wanneer hulle oud is en hulle hare grys word. Dit wys dat Hy menslike swakhede verstaan. Vandag se teksvers word voorafgegaan met die woorde: "... julle vir wie Ek gedra het van julle geboorte af, wat Ek vasgehou het vandat julle daar is." (Jesaja 46:3b)
 
Hoe kosbaar is dit nie? God is teenwoordig van voor ons eerste asemteug en bly teenwoordig as 'n getroue Vriend in elke stadium van ons lewe, en in vandag se teksvers beloof Hy om in hulle ouderdom steeds sy kinders te dra, te onderhou en te red.
 
Hierdie tema word pragtig geïlustreer in Genesis 24:1-10 wanneer ons lees van Abraham, die man wat bekend was as " 'n vriend van God" (Jakobus 2:23) en alhoewel nou reeds baie oud, God steeds volkome vertrou. Abraham staan voor 'n belangrike taak – hy moet 'n vrou vir Isak, sy seun, vind. Abraham steun egter nie op sy eie wysheid en planne nie, maar wel op die getrouheid van God. Daarom kan hy die opdrag aan sy getroue slaaf, Eliëser, toevertrou.
 
Hierdie gedeelte is 'n getuienis van God se wonderlike vriendskap en dat Abraham presies geweet het wat om te doen om in lyn met God se beloftes aan hom te bly. Hy getuig ook van sy volgehoue geloof in God wanneer hy Eliëser beveel om 'n eed af te lê in die Naam van God, die een ware God in wie hy glo, en dan sal hy, Eliëser, ook ervaar hoe God gebede verhoor en weer eens vir sy eienaar voorsien. En God het hulle nie teleurgestel nie.
 
Eliëser het gebid en God het hom geantwoord: “Aan die Here die God van Abraham wie se slaaf ek is, kom die lof toe! Die Here het nie sy troue liefde van my eienaar weerhou nie en vir my het die Here reguit gelei na die huis van my eienaar se broer toe.” (Genesis24:27) Daar is geen twyfel aan Eliëser se vreugde oor die sukses wat hy in hierdie belangrike sending behaal het en oor sy verwondering vir wat God deur hom gedoen het nie. Eliëser se woorde getuig van God se onwrikbare teenwoordigheid in Abraham se lewe.
 
Abraham se lewe getuig van 'n lewenslange vriendskap waartoe God ons ook uitnooi. God se getrouheid gee, as ons lewe in Hom geanker is, selfs tot in die gryse ouderdom vrede en 'n doel vir ons lewe en Hy voorsien vir ons. God gee om vir elkeen van ons. Moet ons nie in verwondering staan oor hoe Hy alles in ons lewe tot die fynste besonderhede uitwerk wanneer ons Hom vertrou en sy vriend word nie?
 
Laat jy Hom toe om dit vir jou te doen?
 
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U vir altyd ons getroue vriend is en dat U ons daaraan herinner dat dit nie saak maak hoe oud ons is of wat ons beleef nie, U is altyd daar en gereed om ons te dra, te onderhou en te red. Ons vertrou, net soos Abraham, in u voorsiening en leiding. Help ons om altyd op U te steun en bly te wees in u onfeilbare liefde. Amen
 
Next article: God se goeie nuus: Jesus is ons vaste fondament - 23 Junie 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.