Ware vervulling in God - 10 Februarie 2025
Ruanne van Zyl
My liggaam en my hart kan maar wegkwyn, God is die rots van my hart en my erfdeel vir altyd. Psalm 73:26, 2020-vertaling
Psalm 73 is 'n eerlike oordenking oor die uitdagings van geloof in 'n wêreld waar onreg dikwels oorheers. Asaf, die skrywer, worstel met die vraag waarom die goddelose skynbaar voorspoedig is, terwyl die regverdige swaarkry. Hierdie vraag is tydloos en bly relevant in ons moderne lewe. Maar Asaf kom tot 'n diep geestelike insig: ware vervulling en betekenis word slegs in God gevind.
Aan die begin van die Psalm is Asaf oorweldig deur sy twyfel en jaloesie oor die voorspoed van die goddelose. Hy beskryf hoe hulle lewens maklik lyk en vry van probleme is. Hierdie waarneming laat hom wonder of sy toewyding aan God selfs die moeite werd is. Hy sê in Psalm 73:13: "Ja, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas." Hierdie gevoel van ontmoediging is een waarmee baie van ons kan identifiseer wanneer ons sukkel om sin te maak van moeilike omstandighede.
Asaf se perspektief verander egter dramaties wanneer hy sê: "totdat ek in die heiligdom van God ingegaan het [het] ek insig gekry in hulle uiteinde." (Psalm 73:17) Wanneer hy sy fokus van die wêreld af wegdraai en op God rig, besef hy dat die voorspoed van die goddelose tydelik is. Net diegene wat by God skuil, sal ware en blywende seën ervaar.
Hy verklaar verder in vers 25: "Wie is daar vir my in die hemel? As ek by U is, begeer ek niks op aarde nie." Hierdie woorde wys op die diep vervulling wat kom wanneer ons God as ons alles beskou. Ons krag, materiële goed of selfs ons gesondheid mag faal, maar God bly ons vaste rots en ons ewige beloning.
Psalm 73 daag ons uit om ons eie prioriteite te herevalueer. Vind ons ware vreugde in wêreldse voorspoed, of in 'n lewe wat God eer? Wanneer ons God eerste stel, vind ons nie net vrede in moeilike tye nie, maar ook die diep vervulling wat net Hy kan bied.
Gebed: Here, help my om U as my grootste skat te sien. Al sou alles faal, gee my die geloof en vertroue om aan U vas te hou. U is my krag en my ewige hoop. Amen.