Vers n dag - 3 Mei 2012
Die krag van Gods Woord
Neville Turley
Die man het geglo wat Jesus vir hom gesê het, en gegaan. Johannes 4:50
Hoe dikwels het jy al in die kerk gesit of jou Bybel gelees en geweet dat die boodskap direk vir jou is? Wat was jou reaksie? Ons vers vandag handel oor een man se reaksie op die woorde van Jesus.
Die volle storie word in Johannes 4:46-54 vertel. Jesus was in Kana, sowat 40 kilometers vanaf Kapernaum, waar die seuntjie van 'n regeringsamptenaar op sterwe gelê het. Sy pa het van Jesus gehoor en hy het na Hom toe gegaan. Hy het Jesus gesmeek om na Kapernaum te gaan en sy seun te genees.
Jesus sê vir hom: “Gaan maar huis toe, jou seun lewe.”
Ware geloof verlang dat ons die krag van Gods woord sal erken en ons daaraan sal onderwerp. Die regeringsamptenaar sê: "kom". Die Seun van die timmerman sê "gaan".
Die regeringsamptenaar glo Jesus en gehoorsaam vertrek hy na sy huis. Dit is 'n lang pad van Kana na Kapernaum en hy moet langs die pad oornag. Die volgende dag kom sy werksmense hom tegemoet en vertel hom die goeie nuus dat sy kind lewe en besig is om te herstel. Hy vra hulle toe presies wanneer hy begin beter word het, en hulle antwoord hom: “Gistermiddag eenuur het die koors hom verlaat.” Johannes 4:52
Die pa het toe besef dat dit op dieselfde oomblik was waarop Jesus vir hom gesê het: “Jou seun lewe.” Die Bybel vertel ons dat hy en sy hele huisgesin het tot geloof in Jesus gekom.
Ons kan baie uit hierdie gedeelte oor die krag van die woord van God leer, wat vandag nog net so relevant is as toe. Die Here werk steeds deur die krag van Sy woord. God praat steeds met ons deur die Bybel.
Ons Almagtige Here is onveranderlik. Sy boodskap is dieselfde as wat dit 2 000 jaar gelede was. Hy is nog net so naby en toeganklik aan almal wat in hulle nood tot Hom nader ‑ net soos toe hy 'n seuntjie op 'n afstand van ongeveer 40 kilometers weg genees het.
Gebed: Vader, ek het U nodig. Wanneer U met my deur U Woord praat, skenk aan my die genade om nie net te luister nie, maar om te glo en gehoorsaam aan u wil te wees. Dit vra ek in die Naam van Jesus Christus. Amen.