Kragtige ontmoetings met God in jou binnekamer - 6 November 2024
Ewald Schmidt
“Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” Matteus 6:5-6, 1983-vertaling
Jesus leer ons hoe om as dissipels van Hom in God se koninkryk te lewe. In ons geloofsvorming speel gebed 'n krities belangrike rol. Ons het gister gesien dat die gebed van die Fariseër, op die straathoeke om deur mense gesien te word, nie beloning inhou nie.
Gebed is een van die kosbaarste geskenke wat die Here ooit vir ons gegee het. Ons het die voorreg om die God wat hemel en aarde geskape het, persoonlik te ken. Hy is so na aan ons dat ons Hom Vader mag noem. Ons leef in 'n verhouding met Hom. In hierdie verhouding is Hy elke oomblik van die dag vir ons beskikbaar, ons kan enige tyd met Hom praat.
Jesus sê die krag van gebed lê in die verhouding wat ons met God het. Dis nie bedoel om vir vertoon voor mense gebruik te word nie. Ons word genooi om daagliks op 'n stil plek 'n afspraak met God na te kom. Ons maak die deur toe, ons sluit ons af van die alledaagse besige routine om spesiale tyd saam met die Here te spandeer. Hierdie afsondering sou ook beteken dat ons ons selfone en tablette afskakel. Dat ons tyd maak om net aan die Here ons volle aandag te gee. Daar, in die stilte van ons spesiale gebedsplek, ons binnekamer, ontmoet ons die Here. Ons maak tyd om na Hom te luister. Ons lees uit sy Woord. Ons maak tyd om doelbewus stil te wees, en ons oop te stel vir die fluister van sy Gees. Ons antwoord Hom in gebed. Dit is ook goed om 'n gebedsjoernaal by te hou, waarin ons neerskryf wanneer ons bewus word van iets wat die Here op ons harte druk.
Deur al die eeue heen was hierdie daaglikse afspraak met die Here, op ons eie in ons binnekamer, die kragbron wat ons in staat stel om geestelik te groei, en vandag voluit vir die Here te lewe. In ons binnekamer lei die Here ons, Hy wys die koers aan wat ons vandag moet stap. Hy vul ons met die krag wat ons nodig het om vandag voluit vir Hom te lewe. Hy gee die wysheid om die versoekings raak te sien wat ons kan mislei. Soms antwoord Hy die diepste vrae waarmee ons worstel. Jesus sê ons Vader sien ons getrouheid wanneer ons ons afspraak met Hom in ons binnekamer nakom. Hy sal ons daarvoor beloon. Die kosbaarste geskenke is om bewus te word van sy liefde, sy genade, en sy ondersteuning vir elke dag.
Gebed: Here, dankie dat ek altyd by U welkom is! Baie dankie dat U altyd gereed is om my in my binnekamer te ontmoet. U wil my so graag vorm, krag gee en lei om vandag voluit vir U te lewe. Help my om getrou te wees in ons daaglikse ontmoeting, en meer en meer van U te leer waar ek tyd maak om my van die wêreld af te sonder. Amen.