Ware hulp aan dié wat hulp nodig het - 4 November 2024
Ewald Schmidt
“As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou goeie daad verborge kan bly. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” Matteus 6:2-4, 1983-vertaling
Die wêreld van sosiale media het nuwe dimensies van hulpverlening oopgemaak. Daar is 'n paar kanale op Tiktok en Instagram van mense wat groot bedrae geld weggee aan vreemdelinge op straat. Dit lyk so indrukwekkend totdat 'n mens uitvind dat dit dikwels vooraf beplande toneelspel met vals note is. Die doel van die oefening is om miljoene mense te kry om daarna te kyk, dan is die inkomstestroom soveel groter. Ander meningsvormers help wel mense in nood, maar dan is die kamera altyd gereed om die goeie daad op te neem, en die wêreld bewus te maak van die opregte hart van die skenker. Hierdie soort hulpverlening was nie wat Jesus in gedagte gehad het toe Hy ons opdrag gegee het om ons naaste lief te hê soos wat Hy hulle liefhet nie (Johannes 13:34).
Die hartsgesindheid waarmee ons mense help, is vir Jesus baie belangrik. Om net te help om raakgesien te word, is skynheilig. Dit verneder die persoon wat die hulp ontvang. Dis selfsugtig en op eie eer gemik.
Die hulpverlening wat die Here eer, gebeur nie van verhoë af en voor die kameras nie. Dit gebeur waar 'n kind van die Here die nood van sy naaste raaksien. Dit gebeur waar 'n opregte hart 'n hand uitsteek om te help, sonder dat die res van die wêreld dit hoef te weet. Ons as kinders van die Here kyk met nuwe oë na die wêreld rondom ons. Die Heilige Gees maak ons sensitief vir die nood van ander. Hy wys vir ons geleenthede waar ons 'n verskil kan maak in die lewe van iemand anders. Omdat ons die Here liefhet, en Jesus se hande en voete in hierdie wêreld wil wees, gaan ons oor tot aksie. Ons help waar ons kan. Ons gee soms dat ons eie oë traan. Maar ons doen dit uit liefde en omgee, sonder om enige beloning terug te verwag. Op hierdie manier word die ontvanger van ons hulp nie blootgestel en verneder nie.
Jesus sê: opregte dade van naasteliefde gaan nie ongesiens verby nie. Ons Vader in die hemel weet dit, en Hy beloon graag getrouheid. In sy koninkryk werk dit so dat wanneer ek weer nood het, iemand anders op my pad sal kom wat my sal help. (2 Korintiërs 8:13-14) Dan wil ek nie op elke nuuskanaal ontbloot word in my tyd van nood nie.
Gebed: Here, dankie dat U vir my seën en sorg. Dankie dat U my in staat stel om my naaste te help, al is dit net op 'n baie klein skaal. Vul my hart so met u liefde dat my gesindheid teenoor my naaste altyd reg sal wees. Maak my 'n blymoedige helper vir ander in nood. Dankie dat U ook vir my sal sorg wanneer ek in nood is. Amen.