Vers n dag - 30 April 2012
Om grensloos lief te hê
Quintus Heine
Miga 6:8 Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.
Liefde wat oor alle grense opoffer het inderdaad die vroeë kerk gekenmerk. Siprianus, van Carthago (200 - 257 n.C.) het sy volgelinge aangemoedig om genade en barmhartigheid te betoon. Volgens Siprianus is daar niks spesiaals daaraan om jou eie mense lief te hê nie. Hyself het later gesterf ter wille van sy belydenis as Christen. Wie die kwaad met die goeie wil oorwin, moet leer om – soos God – dié soort liefde te beoefen wat jou vyande insluit. Dit het die eerste Christene inderdaad gedoen, onder andere tydens die plae wat die Romeinse Ryk getref het.
Shane Claiborne (Shane Claiborne, The Irresistible Revolution) het 'n paar maande saam met moeder Theresa in die rioolslote van Kalkutta deurgebring. Hy vertel hoe mense hom dikwels uitgevra het oor moeder Theresa: Hoe was sy? Shane vertel: Sy was kort, vol plooie, soos 'n pragtige, kosbare en wyse ouma. Die een ding wat hy nooit sal vergeet nie is haar vervormde voete. "Elke oggend, tydens die nagmaal, het ek na haar voete gestaar. Ek het gewonder of moeder Theresa dalk melaatsheid gehad het. Natuurlik sou ek nooit daarna vra nie." Een oggend het een van die nonne Shane gevra of hy moeder Theresa se voete gesien het. Nuuskierig het hy “ja” gesê. Waarop die suster sê: "Ons kry skaars genoeg skoene om in almal se behoeftes te voldoen. Moeder Theresa wil nie hê dat iemand met die slegste paar opgesaal sit nie, daarom soek sy self die swakstes uit. Die jare van slegte skoene dra, het haar voete vervorm." Dit is die soort liefde wat ander bo jouself stel. Liefde wat in die hart van Jesus gebore word (oorgeneem uit - Seisoen van Luister Mei 2010).
Dit is moontlik om lief te hê soos Jesus liefgehad het. Die Here Jesus rus elke gelowige toe om hierdie soort liefde uit te leef. Binne dieselfde naggesprek waarin Jesus die opdrag tot liefde gee (Joh 14), vertel Hy van die Heilige Gees wat kom om gelowiges te bekragtig. Deur die werk van die Gees sal Vader en Seun by gelowiges kom woon en ons leer om sy woorde en opdragte uit te voer. Die Heilige Gees sal ons voortdurend herinner aan wat Jesus gesê het en ons tot gehoorsaamheid bemagtig (Joh 14:15-25). Die Heilige Gees sal ons leer om grensloos lief te hê na die voorbeeld van Jesus.
Gebed: Here help my om 'n getuie vir U te wees deur my liefde aan ander mense!