Stilte: Stilte is ook ’n antwoord - 25 Oktober 2024
Charlea Grey
Wanneer ons by God is, dan is ons nie bang nie, want ons weet dat Hy luister wanneer ons die dinge vir Hom vra wat Hy wil hê ons moet vra. Hy luister wanneer ons dit vra. Daarom weet ons dat Hy al klaar vir ons iets gegee het wanneer ons dit vir Hom vra. 1 Johannes 5:14-15, Bybel vir almal
Dis mos maar menslik om jou sin te wil hê. En ek is eerlik, ek kan ook maar lekker omgekrap voel as ek nie my sin kry nie. Hoekom kan dinge nie net verloop soos ek daarvan hou nie?
Veral wanneer ons bid en vir God sekere dinge vra, wil ons mos maar eintlik ook graag ons sin hê.
Ons weet God luister, want dit staan so in die Bybel en daar is soveel getuienis van mense wat kan vertel hoe hul gebede verhoor word. Maar ja, soms kry ons nie dadelik ’n antwoord op ons gebede nie. Soms is daar iets wat voel soos ’n oorverdowende stilte. Dis dan wat dinge nogal uitdagend kan raak.
Dit kan moeilik wees om te glo dat God ons hoor as dit waarvoor ons vra, nie gebeur soos ons dit graag sal wil hê nie.
Ons moet egter onthou, soos 1 Johannes 5:14-15 sê, dat God luister. Hy luister altyd en Hy weet wat ons nodig het. En ja, soms is daai antwoord stilte. Stilte vir nou. Stilte vir ’n ruk. Tot dit die regte tyd is, tot dit die regte ding is. God weet tog beter. Hy weet wat ons nodig het. En soms moet ons daarby berus dat stilte, óók ’n antwoord is.
Gebed: Here, help my om te onthou dat U my gebede hoor, selfs al kry ek nie altyd die antwoord waarop ek gehoop het of die ding waarvoor ek gevra het nie. Help my om te glo dat U weet wat ek nodig het, en dat U in my behoeftes sal voorsien op die regte tyd. U tyd. Amen.