Imogen Campbell
 
En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Filippense 4:7, 1983-vertaling
 
"When peace like a river attendeth my way, when sorrows like sea billows roll;
whatever my lot, thou hast taught me to say, "It is well, it is well with my soul.
My sin oh, the bliss of this glorious thought! my sin, not in part, but the whole,
is nailed to the cross, and I bear it no more; praise the Lord, praise the Lord, O my soul!
 
"O Lord, haste the day when my faith shall be sight, the clouds be rolled back as a scroll;
the trump shall resound and the Lord shall descend; even so, it is well with my soul."
 
Die Engelse woorde van hierdie lied wat ons in Afrikaans as "Dit is wel met my siel" ken, en deur Horatio Gates Spafford geskryf is, raak my baie diep. Dit vier Jesus se werk wat aan die kruis voltooi is en sien met verwagting uit na sy Wederkoms. Met dit kom 'n gevoel van vrede en van dit is wel met my siel – volkome vrede (shalom).
 
Skip Heizig, die senior pastoor van Calvary Church, sê dat vrede nou reeds vir gelowiges beskikbaar is, maar dit is 'n innerlike vrede. Hy sê ook: "Die Bybel sê dat vrede beteken nie dat uiterlike konflik afwesig is nie. Dit (vrede) is die innerlike teenwoordigheid van Christus ... Hy sal uiteindelik weer kom om hartseer weg te neem en uiterlike vrede te bring." (Vrye vertaling)
 
Die afgelope maand het ons gelees en geleer dat ware vrede slegs van God kom. Dit is daardie vrede wat alle verstand te bowe gaan (Filippense 4:7) en wat ons, ten spyte van al die uiterlike woelinge, in ons binneste beleef. Om die God van die heelal te ken en gehoorsaam en op die vrede wat Hy ons gee te vertrou, maak al die verskil. "So sê die Here, jou Verlosser, die Heilige van Israel: Ek is die Here jou God wat jou onderrig tot jou beswil, wat jou lei op die pad waarop jy moet gaan. As jy maar aan my gebooie gehoorsaam was, sou daar voorspoed en redding vir jou gekom het, so onkeerbaar soos 'n rivier, soos die golwe van die see." (Jesaja 48:17-18)
 
Eendag sal Jesus weer kom. Vir 'n ruk sal daar nie vrede wees nie want Jesus het immers gesê Hy het gekom om die swaard te bring (Matteus 10:34) en die gevolglike onenigheid daarmee saam. Aan die einde van tyd sal 'n groot geveg uitbreek. Ek verwonder my oor die beskrywing van die Here Jesus: "Toe het ek gesien die hemel is oop. Daar was 'n wit perd. Sy Ruiter word die Getroue en die Betroubare genoem. Met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog. Sy oë het soos vuur gevlam, en op sy kop was daar baie heerserskrone. Daar was 'n Naam op Hom geskrywe wat niemand anders ken nie, net Hy self. Hy het klere aangehad wat met bloed deurweek was, en sy Naam is: “Die Woord van God.” Die leërs in die hemel het op wit perde agter Hom aan gery. Hulle het fyn, helder wit klere aangehad. Uit sy mond het daar 'n skerp swaard uitgekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met 'n ystersepter regeer. Hy sal self die parskuip trap vir die wyn, die wyn van die toorn en die oordeel van God, die Almagtige. Op sy klere, by sy heupe, was daar 'n Naam geskrywe: “Die Koning van die konings en die Here van die heersers.” ... Toe het ek gesien dat die dier en die konings van die aarde met hulle leërs bymekaargekom het om oorlog te maak teen die Ruiter op die wit perd en teen sy leër." (Openbaring 19:11-16,19) 
 
God laat alles volgens sy tyd gebeur. Op 'n dag aan die kruis het Hy gesê "Dit is volbring!" (Johannes 19:30) In die voorlaaste hoofstuk in die Bybel sê Hy: "Dit het klaar gebeur." Eendag sal daar uiteindelik ewigdurende vrede heers. Ja, vrede soos 'n rivier, "peace like a river".
 
"Verder sê Hy vir my: “Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet. Elkeen wat die oorwinning behaal, sal dit alles kry, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees." (Openbaring 21:6-7)
 
Gebed: Here, help ons om standvastig in u Woord te wees en rus ons asseblief toe om ons vriende en familie te kan help om U te vind terwyl, soos die Bybel sê, dit nog dag is. Amen