Imogen Campbell
 
Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot is, en dat alles wat hy in sy hart bedink, altyd net sleg is, was die Here jammer dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom tot in sy hart gegrief ... Die aarde was deur en deur sleg voor God; die aarde was vol geweld. Genesis 6:5-6,11, 2020-vertaling
 
Jesus Christus het vir sy disipels gesê dat hulle harte nie ontsteld en bang moes wees nie. (Johannes 14:27) Die enigste keer waarvan ek weet dat die God van die heelal se hart gegrief of ontsteld was, was toe Hy jammer was dat Hy die mens gemaak het.
 
Hoe verskriklik hartseer is dit nie dat die Skepper hierdie pyn moes verduur as gevolg van diegene wat Hy geskep het nie – gevalle engele en mense wat afgedwaal het. Wanneer 'n mens die hele hoofstuk lees, besef jy dat die valsheid van die gevalle engele 'n groot bydrae tot die pyn in God se hart gelewer het.
 
Net soos sonde in Satan se hart gevind is, was dieselfde korrupsie ook teenwoordig in die hart van die mensdom. Satan het probeer om die mag oor te neem en op gelyke voet met God te wees. Toe dit onmoontlik was, het hy gerebelleer. Mense is nie juis anders nie. Wanneer ons nie in pas met die Gees is nie en ongehoorsaam aan God, is 'n dors na mag en geweld ook die neweprodukte.
 
In Jesaja 59:1-8 word die gevolg van sonde baie duidelik uitgewys: "Kyk, die hand van die Here is nie te kort om te verlos nie, sy oor is nie hardhorend, sodat Hy nie kan hoor nie. Maar julle sondeskuld, dit het skeiding gebring tussen julle en julle God. Julle sondes het Hom sy gesig vir julle laat verberg, sodat Hy nie luister nie; want julle handpalms is deur bloed besoedel, en julle vingers deur sondeskuld. Julle lippe praat leuens, julle tonge prewel ongeregtigheid. Niemand beroep hom op geregtigheid nie, en niemand bepleit sy saak met die waarheid nie. Hulle vertrou op nietighede, en maak valse uitsprake. ... met hulle handewerk kan mense hulleself nie bedek nie. Hulle handewerk is onheilswerk – dade van geweld is in hulle hande. Hulle voete hardloop na die kwaad; hulle haas hulle om onskuldige bloed te vergiet. Hulle planne is planne van onheil; daar is verwoesting en vernietiging op hulle hoofpaaie. Die pad van vrede ken hulle nie. Daar is geen regverdige optrede op hulle roetes nie. Hulle maak self hulle paaie vol kinkels; niemand wat daarop loop, ervaar vrede nie."
 
Die God van die heelal is lankmoedig. Vir duisende jare verdra Hy steeds die sondes van die mens en tog wil Hy nie dat een van ons verlore gaan nie, maar dat almal die waarheid leer ken. Kyk 'n mens na die chaos van vandag, besef jy dat die sonde steeds in die harte van die magsbehepte mensdom heers.
 
Dit is verskriklik, en dit lyk asof die situasie steeds versleg. Nie net dryf ons verder en verder weg van God nie, maar die mens probeer aktief om hom van die Woord van God te distansieer. Nog erger, die mensdom kies die dinge wat God nie aanstaan nie en plaas onsself so in 'n stryd met ons Skepper. Dit kan nie goed eindig nie. Ek is so dankbaar dat God geduldig is met ons mense. CS Lewis het geskryf: "Nou is ons kans om die regte kant te kies. God hou terug om ons daardie kans te gee. Dit gaan nie vir ewig duur nie. Ons moet dit aanvaar of dit los." (vrye vertaling)
 
Die gedeelte in 2 Petrus 3:9 stel dit so: "Die Here stel nie die belofte uit, soos party mense dink nie. Inteendeel, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom."
 
Eendag sal die laaste siel gered word en God se plan sal vervul word. William Ewart Gladstone se wens sal dan waar word: "Ons sien uit na daardie tyd wanneer die mag van die liefde die liefde vir mag sal vervang. Dan sal ons wêreld die seën van vrede ken." (vrye vertaling)
 
Gebed: Hemelse Vader, oortuig ons asseblief van die sonde en help ons om dit te oorkom. Ons bid dit alles in Jesus se Naam. Amen