Louise Gevers
 
“Kyk, Ek stuur julle uit soos skape onder die wolwe. Wees dan behoedsaam soos slange en onskuldig soos duiwe. Matteus 10:16, 2020-vertaling
 
Ons leef in 'n veranderende wêreld wat vinnig besig is om kontak met realiteit te verloor. 'n Wêreld wat sy eie reëls en standaarde daarstel en mense dwing om daaraan te voldoen, wat diegene verwerp wat aan hulle waardes en geloof vashou, God eer en goedheid en opregtheid onderskryf. Dit was nie anders in Jesus se tyd nie – met die Romeinse regering aan die een kant en die godsdienstige leiers aan die ander kant.
 
Toe Jesus sy dissipels uitgestuur het om vir "die verlore skape van die huis van Israel" (Matteus 10:6) te gaan preek, het Hy hulle gewaarsku dat hulle "soos skape onder die wolwe" sou wees en vir hulle instruksies oor sy vereistes gegee. Hy het hulle aangeraai om "behoedsaam soos slange en onskuldig soos duiwe" te wees – behoedsaam soos 'n slang wat kyk en wag vir die beste oomblik om tot aksie oor te gaan, met ander woorde om sy opdragte uit te voer, maar ook dat hulle sagmoedig en rein moet leef sodat hulle van sy geregtigheid in hulle kon getuig.
 
Die prediking van geestelike verandering moes prioriteit geniet, want die oordeel was naby: "Die koninkryk van die hemele is op hande" (Matteus 10:7). Eers hierna, het Jesus hulle beveel, moes die mense se fisiese en sielkundige behoeftes aangespreek word: "Maak die siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses, dryf demone uit. (Matteus 10:8a) As gevolg van hulle eie ondervinding moes hulle dit doen sonder om terug te hou, want: "Julle het dit verniet gekry – verniet moet julle dit uitdeel." (Matteus 10:8b)
 
Hulle is ook beveel om lig te reis as 'n bewys van hulle geloof en weerloosheid – geen geld, reissak, 'n ekstra kledingstuk, sandale of 'n wandelstok nie, "want die arbeider is sy kos werd" (Matteus 10:10). Kan jy jou voorstel hoe dit sal wees om so 'n reis te onderneem?
 
Jesus het sy dissipels geleer hoe om nederig sy waardes te aanvaar, om die sending eerste te stel en nie deur onnodighede gehinder te word nie. Hy wou egter ook hê dat hulle gesien moes word vir wie hulle was – mans, weerloos in hulle gehoorsaamheid aan Hom, wat volkome vir hulle naaste omgee en hulle behoeftes oordeelkundig aanspreek.
 
So belangrik was hulle sending dat, as 'n ernstige waarskuwing aan mense wat God se boodskap verwerp, Jesus sy dissipels beveel het om die stof van hulle voete af te skud wanneer 'n stad of persoon hulle nie verwelkom en na hulle woorde luister nie. (Lees Matteus 10:14)
 
Die dissipels was nie dom skape nie. Hulle het Jesus se opdrag aanvaar en ons lees in Markus 6:12-13: "Hulle het toe uitgegaan en gepreek dat die mense hulle moet bekeer. Hulle het baie demone uitgedryf, en baie siekes met olyfolie gesalf en gesond gemaak."
 
Voel jy soms soos 'n skaap tussen die wolwe, nooit heeltemal seker wie jy kan vertrou nie, want jy bevind jou in 'n oppervlakkige wêreld vol skynheiligheid wat jou oortuigings teenstaan? Skep moed. Jesus weet dit.
 
"... ons is syne, sy volk en die skape van sy weide" (Psalm 100:3, 1933/1953-vertaling) en daarom kan ons kies om die dissipels se voorbeeld na te volg.
 
Sal jy dit doen?
 
Gebed: Here Jesus, sal U ons op die gelyke pad lei wat aan U blydskap bring en sal U ons help om behoedsaam, maar tog volkome opreg, te wees wanneer ons in u Naam uitgaan om diegene wat verlore is te bereik. Amen