Louise Gevers
 
Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” Matteus 5:16, 1983-vertaling
 
In my Engelse Sondagskool het ons 'n eenvoudige, maar aangrypende lied gesing oor lig – een van my gunstelinge – wat my verbeelding aangegeryp het: “Jesus bids us shine with a pure clear light, like a little candle burning in the night; in this world of darkness we must shine, you in your small corner and I in mine.” [Laat ons skyn vir Jesus met 'n helder glans, skitter soos die sterre aan die hemeltrans! in die donker wêreld, skyn dan, skyn, jy in jou klein hoekie en ek in myn.] My kinderlike begrip hiervan was dat ons almal kerse het om al die hoekies te verlig, maar ek het nooit daaraan gedink hoe helder daardie lig sou wees as ons almal saam in 'n groep met ons kerse sou staan nie.
 
Een aand het ons 'n konsert van die Kaapstad Walliese Mannekoor ten bate van die jaarlikse Passiespel in ons dorp, bygewoon. Hulle het lank en hard saam geoefen om 'n program met 'n verskeidenheid liedere daar te stel wat die gehoor absoluut geboei het. Terwyl ons gekyk en geluister het, het ek besef dat hierdie mans met verskillende persoonlikhede, uit verskillende agtergronde en elk met sy eie vokale omvang, as een vir 'n gemeenskaplike doel saamgekom het en nou pragtig en harmonieus saam sing. Die resultaat was 'n dinamiese rapport tussen hulle en die gehoor wat nie wou hê die konsert moes eindig toe die laaste lied gesing is nie. Heel gepas was die "encore" die lied "Rhythm of Life".
 
Ek glo dit is 'n mooi voorbeeld van individue wat opofferend hulle talent – lig – gebring het om saam vir Jesus tot voordeel van ander te skyn. Dit het selfs verder tot die verspreiding van die evangelieboodskap bygedra deur die opvoering van die Passiespel wat op 'n baie grafiese manier uitgebeeld is.
 
Dink net hoe wonderlik dit sal wees as ons almal met die begeerte om ander lief te hê en te dien ons lig verenig, soos Jesus in Johannes 17:21 tot sy Vader vir sy dissipels bid: "Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het" – en as ons, ter wille van die Koning wat vir ons gesterf het sodat ons 'n nuwe lewe kan hê, ons verskillende agtergronde, vokale omvang, lengtes en voorkoms, opsy kan sit.
 
Jesus het daagliks saam met sy dissipels gewerk en ander gedien – Hy het die mense tussen wie Hy beweeg het genees, gevoed en onderrig, terwyl Hy ook vir reg en geregtigheid gestaan het. Hy was die toonbeeld van God se liefde wat in die wêreld skyn. Ons is geroep om dieselfde te doen en die wonder van sy lig wat deur ons skyn, te ervaar.
 
Gebed: Here Jesus, skyn u lig deur my sodat ek, soos U, onbaatsugtig kan liefhê en dien. Maak ons almal een in U. Amen