Louise Gevers
 
Elke ding het sy tyd en sy manier. Daar is baie gevare wat die mens bedreig. Hy weet nie wat sal gebeur nie. Prediker 8:6-7a, 1983-vertaling
 
'Reg' en 'verkeerd', 'ja' en 'nee', is woorde wat ons reeds van kleins af ken. Ouers en onderwysers leer ons hoe om die baie klaarblyklik eenvoudige dinge wat ons so gekompliseerd vind, te doen. Hierdie onskatbare grondslag help ons om die meer subtiele morele aangeleenthede aan te spreek wat ons later in ons lewens teëkom.
 
Tog, bevind ons ons tans in 'n ontstellende wêreld waar so baie mense klaarblyklik nie in pas met hierdie standaarde is nie. Hulle strompel voort van een ding na die ander, en is klaarblyklik onbewus van die gevolge van hulle woorde en dade en die waardigheid en behoeftes van ander word heeltemal geïgnoreer. Die mensdom is uit voeling met deernis vir ander en baie mense dink hulle bestaan net tot hulle eie voordeel, en nie tot die voordeel van almal nie.
 
Goddelike beginsels word heeltemal na agter geskuif en Jesus se woorde: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand ... Jy moet jou naaste liefhê soos jouself." (Matteus 22:37-39) word heeltemal vergeet en geïgnoreer, en dit beïnvloed die wêreld. "Die één ding wat ek [Salomo] wel gevind het, is dit: God het die mense goed en opreg gemaak, tog het hulle hulle besig gehou met allerlei slimmighede." (Prediker 7:29)
 
Robert Goulet se lirieke, “We love, we hate; we learn too late how small we are; How little we know" vind vir my weerklank in Salomo se waarnemings in vandag se teksvers. Ons besef dikwels te laat hoe ver weg ons afgedwaal het van dit wat God wil hê ons moet doen en alhoewel ons diep binne weet wat reg is, kry ons dit steeds verkeerd want ons is so stadig om te leer om God se gebooie te gehoorsaam.
 
My ma het ons geleer daar is vir alles 'n regte tyd en plek. In my kinderjare het ek dit net aanvaar, maar dit was eers soos ek ouer geword en die verskil tussen reg en verkeerd beter kon verstaan, dat ek die wysheid van haar woorde en hoe ek daarby baat, kon waardeer.
 
Salomo se insiggewende woorde herinner my dat selfs nou weet ons nie wat sal gebeur nie, maar ek het vrede want ek besef dat selfs as ek swak is, is ek sterk: "Daarom is ek bly oor swakhede ... ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk." (2 Korintiërs 12:10) En ek weet "ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee". (Filippense 4:13)
 
Ons moet die volgende vrae vra wat elkeen van ons slegs persoonlik kan beantwoord: "Leef jy vir God? Hoe bewus is jy in jou daaglikse lewe van God? Op watter stadium word Hy deel van jou denke?"
 
Gebed: Genadige God en Vader, om vir U te leef en ook alles wat U doen om hierdie wêreld en die mense wat U gemaak het te seën, laat my besef wie ek is en wie U my gemaak het om te wees. Gee dat u Gees my in staat sal stel om ander lief te hê, vrug te dra, die waarheid en geregtigheid te onderhou en vrede te bring. Amen