Ewald Schmidt
 
“Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry 'n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.  Matteus 5:13, 1983-vertaling
 
Is jy een van daardie mense van wie gesê word: hy/sy is die sout van die aarde? Wat beteken dit? Vandag is tafelsout (natriumchloried) baie goedkoop. In die Bybelse tye was dit baie duur, amper so duur soos goud per gewig. Weens die verdampingsproses en die moeite om blokke sout oor groot afstande te vervoer, was die koste daarvan hoog. Romeinse soldate is ook soms in die vorm van blokke sout betaal, wat hulle kon verkoop om wins te maak.
 
Jesus het ons as gelowiges vergelyk met sout. Die eerste rede daarvoor: sout bring die beste smaak in kos na vore. Ons kos proe maar net nie reg as dit nie kundig met sout afgerond is nie. Wanneer Jesus ons vergelyk met sout, dan beteken die beeldspraak dat ons die beste in die wêreld ontsluit. Daar waar ons is, maak ons die wêreld beter. Ons bring smaak aan ons gemeenskap. Ons maak 'n positiewe verskil daar waar ons is.
 
Die tweede eienskap van sout is dat dit 'n preserveermiddel is, dit werk verrotting teë. In die antieke tye, voordat die wêreld ys- en vrieskaste gehad het, was hierdie funksie baie nodig. Ons sout vleis in om lank te kan hou – dink biltong! Dis ook in baie streke 'n ou praktyk om vis te sout, en dan te winddroog om deur die wintertye kos te kan hê. Groente word in sout gepiekel en bewaar vir die tye wanneer dit buite seisoen is en nie vars geëet kan word nie. Christene tree op as 'n teenmiddel vir die verval van die gemeenskap. Ons gee onsself nie net oor aan drifte en drange nie. Omdat ons die Here liefhet, gehoorsaam ons sy gebooie, en Hy stuur ons uit om ons naaste te gaan liefhê. Liefde dring ons om ons naaste op te bou deur ons woorde en dade.
 
Die derde eienskap – sout maak dors. Die ou spreekwoord is dat 'n mens 'n perd na die water toe kan lei, maar nie kan maak drink nie. Wanneer jy die perd soutpille voer, dan sal hy drink. Ons getuienis oor Jesus behoort die mense rondom ons dors te maak vir die lewende water van Jesus!
 
As die sout laf geword het, sy krag verloor het, dan is dit niks meer werd nie, sê Jesus. Daar word net soutpaaie van gemaak wat deur mense vertrap word. Die waarskuwing hierin is dat ons nie soos die wêreld moet word, en ook oorgee aan al ons drifte en begeertes nie. Ons is juis geroep om die pad van die liefde te stap, en smaak te gee, verrotting te keer en mense dors te maak vir Jesus.
 
Gebed: Here Jesus, dankie dat U my wil gebruik in hierdie wêreld, om 'n positiewe verskil te maak waar ek gaan. Help my om smaakvol op te tree in my handel en wandel. Help my om nie deel van die agteruitgang van die wêreld te wees nie, mag my lewe en optrede ander eerder 'n dors na U gee. Amen.