Ewald Schmidt 

“Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” Matteus 5:4, 1983-vertaling
 
Dit sou so lekker wees as die enigste trane in hierdie wêreld trane van blydskap kon wees. Wanneer ons harte so kon oorloop van goeie emosies, wat te veel word om binne te hou.
 
Maar daar is baie trane van hartseer en wanhoop in ons wêreld op die oomblik. Ek is diep onder die indruk van die effek tans van soveel oorlog in hierdie wêreld. Dit bly hartverskeurend om op die nuus te sien hoe mense doodgemaak word, hoe geboue, mense se woonplekke, vernietig word. My hart is seer saam met elke ma wat 'n kind aan die dood afstaan. Daar is so 'n wrede siklus van haat, vyandskap en woede wat oor die wêreld heers. Onder ons mensgemaakte vlae slaan ons kamp op, en val ander aan wat nie soos ons dink en doen nie.
 
In hierdie spreuk van Jesus gaan dit oor meer as die alledaagse seer van ons bestaan. Natuurlik het die Here ook vir ons baie medelye wanneer ons verlies ly, wanneer ons treur oor geliefdes wat ver is of siek word. Hy is ons goeie Herder wat ook in die donkerste dieptes saam met ons die pad stap, het Psalm 23:4 ons verseker.
 
Maar hierdie treur is selfs groter as ons persoonlike verlies. Dit gaan oor 'n wêreld in nood, 'n wêreld wat in die duisternis verkeer, waarin mense mekaar aanval en seermaak. Dit was nie die plan van die Here vir die mensdom nie. Ons treur oor 'n wêreld wat ontaard het, en op 'n selfvernietigingspad stap. In ons gees voel ons aan: dit hoef nie so te wees nie!
 
Ons treur, en ons trane, bring ons in gebed voor die Here se troon. Ons bid vir sy ingrype, ons bid dat Hy weer herstel sal bring. Ja, soms vra ons soos die Ou Testament profete: hoe lank nog, Here? “Hoe lank sal ek nog die vyande se vaandel sien, en die geluid van die ramshoring hoor?" (Jeremia 4:21) Ja, soms wil ons dit saam met Psalm 13:2-3a uitroep: “Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk? Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring?"
 
Ons treur oor 'n wêreld vol haat, en ons persoonlike lewe wat nie altyd maklik loop nie. Ons bid daaroor, ons soek die Here se antwoord. Die belofte wat Jesus gee: God hoor ons gebed. Ons sal vertroos word. Ons sal God se antwoord sien. Ek weet dat dit moeilik is om op die Here te wag. Ons wil altyd onmiddellike resultate sien op ons gebede. Daar is nie altyd maklike antwoorde, of vinnige uitkoms wanneer ons in nood verkeer nie. Bring dit wat jou laat treur, na die Here toe in gebed. Hou aan bid, hou aan om jou nood voor die Here te noem. Jesus sê jy sal vertroos word.
 
Gebed: Here, soms wil ons soos die profete en psalmdigters uitroep na U: hoe lank nog, Here? Hoe lank gaan hierdie wêreld nog so aanhou op 'n vernietigingspad? Waarom word daar soveel seer toegelaat? Ons bring ons ontstuimige harte na U toe in gebed. Ons wil kom rus vind aan u voete. Ons sien met verlange uit dat U ingryp, en die wêreld kom heel maak deur u liefde. Amen.