Benescke Janse van Rensburg 

Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.” Deuteronomium 31:6, 1983-vertaling
 
Vroeër die maand het die koningshuis in Brittanje bekend gemaak dat Koning Charles met kanker gediagnoseer is. Met dié dat prinses Catherine op dieselfde tyd ná ’n ernstige mediese prosedure afgeboek is tot einde Maart, het mense vir die eerste keer begin vra wat die toekoms van die koningshuis is?
 
Ons lewens kan ook vinnig verander – ’n doktersbesoek met nuus van ’n slegte diagnose, ’n afspraak met ’n werkgewer met die nuus dat jy afgelê gaan word, ’n egskeiding, ’n motorongeluk wat jou verlam laat of ’n oproep of WhatsApp-boodskap met die nuus van ’n geliefde wat gesterf het. Die trauma by die besef dat wat jy as “normaal” beskou het vir ewig weg is, kan veroorsaak dat sommige van ons kamp opslaan in die dal van doodskaduwee. Ons kla en raak depressief, terwyl ons vergeet dat God ons in staat stel om ’n nuwe normaal oop te kap.
 
Is dit maklik? Nee. Is dit moontlik? Verseker. In Deuteronomium 31:6 lees ons: “Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.”
 
God verander nie. Geen van ons uitdagings tref hom ooit onkant nie. Wanneer ons aanhou stap deur die dal van doodskaduwee in die moeilikste tye, gaan ons êrens ’n dag beleef waar ons deur die dal is en terugkyk met die besef dat God nog heeltyd daar was!
 
Gebed: Vader God, baie dankie dat U my nooit verlaat of in die steek laat nie. Hou my asseblief naby aan U in die moeilikste tye. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
As jy enige terugvoer het of ’n bydrae wil lewer of selfs ’n getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur dit gerus deur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.