Benescke Janse van Rensburg 

Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.
 
Op ’n dag daag ’n goeie, maar arm vrou by ’n wyse man op en vra: “Meneer, ek en my man en my kinders moet in een vertrek lewe en ons val behoorlik oor mekaar.”
 
“Koop ’n paar hoenders,” was die wyse man se raad. Die vrou was verstom. Nogtans het sy gedoen wat die man gesê het. Ná ’n tydjie is sy terug, maar nog meer ongelukkig: “Meneer, die hoenders kloek en skrop en die kinders skree en my man sê ek raak mal.”
 
“Koop ’n bokooi,” sê die wyse man. Die vrou het in trane uitgebars, maar tóg ’n bok gaan koop.
 
Net die volgende dag is sy terug: “Meneer, u raad vra te veel van my. Ek is nie heilig genoeg nie.”
 
“Ek is jammer,” sê die wyse man. “Verkoop die bok en raak ontslae van die hoenders.”
 
’n Paar dae later loop sy die wyse man raak. “Meneer, dít was nou goeie raad. Sonder die bokooi en die hoenders is die lewe wonderlik. Ons geniet die stilte en die baie ruimte. Dit het nog nooit so goed met ons gegaan nie!”
 
Daar is niks wat ’n mens se gevoel van onvergenoegdheid so vinnig genees as wanneer jy hoor van iemand anders wat slegter af is as jy nie. Dit is asof jy skielik besef wat jy het en waarvoor jy dankbaar kan wees!
 
In 1 Tessalonisense 5:18 lees ons: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”
 
Wanneer laas het jy vir God dankie gesê vir alles wat jy het – in stede van kla wat jy nie het nie?
 
Gebed: Vader God, baie dankie dat U my in u hande vashou. Help my asseblief om perspektief te behou wanneer ’n gevoel van onvergenoegdheid dreig om my te oorweldig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
As jy enige terugvoer het of ’n bydrae wil lewer of selfs ’n getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur dit gerus deur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.