Benescke Janse van Rensburg 

... laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water.”
 
Vir 25 jaar lank het die plaaslike inwoners van Besaan, ’n dorpie in die suidweste van Frankryk gewonder waarheen hulle goue weerhaan op die bokant van ’n buitelug Rooms-Katolieke kruis oornag verdwyn het.
 
Die geheim is ontrafel toe die boef onlangs die metaalvoël in ’n pakkie aan die historikus Michel Sabatery pos. Gou het die polisie die boef geïdentifiseer en hom gaan sien. Die man het skaam vertel dat hy as jong besope student die weerhaan gesteel het. Nadat hy weer nugter was, was hy te skaam om dit terug te gee. Hy het dit in sy kelder versteek. Toe hy die kelder ontruim het hy besluit om met die verlede klaar te maak.
 
Die weerhaan is aan die kerk terugbesorg waar dit tydens ’n spesiale seremonie op sy eertydse plek teruggeplaas is.
 
Soms is ons soos hierdie man in iets uit ons verlede vasgevang waaroor ons skaam is – diefstal, ’n buite-egtelike verhouding, ’n verslawing. Of dalk het ons iets gesê of gedoen wat iemand anders geweldige pyn veroorsaak het.
 
Jesus Christus se bloed reinig ons van enige sonde wanneer ons waarlik berou het. In Hebreërs 10:22 lees ons: “laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water.”
 
Watter “metaalvoëls” versteek jy in jou kelder? Bring dit na God. Hy reinig ons van die verlede. Hy stel ons in staat om met nuwe moed en geloof die toekoms in te stap. Sterkte.
 
Gebed: Vader God, baie dankie dat U my vrymaak. Ek bring vandag (noem waaroor jy skaam is) na U toe. Maak my asseblief vry vandag. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
As jy enige terugvoer het of ’n bydrae wil lewe of selfs ’n getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur dit gerus deur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.