Louise Gevers
 
Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. Johannes 15:14, 2020-vertaling
 
"Best friends forever", is nie 'n uitdrukking waarmee ek grootgeword het nie, en ek was verstom dat ons vierjarige kleindogter, Audie, dit ken. Toe ek haar onlangs by haar kleuterskool oplaai, het ek 'n plakker op haar arm opgemerk. "Dit is van my 'best friend forever' ", het sy gesê. "En Ouma, ek het ook vir haar 'n plakker gegee." Op so 'n jong ouderdom weet Audie reeds dat hierdie vriendin baie spesiaal vir haar is en dat "forever" 'n baie lang tyd is. Is 'n plakker egter genoeg om die ooreenkoms te bekragtig?
 
Spreuke vertel ons iets oor vriendskap: " 'n Vriend betoon te alle tye liefde, en 'n broer is gebore vir tye van nood." (Spreuke 17:17) " 'n Man met baie vriende word geruïneer, maar daar is 'n geliefde vriend wat nader is as 'n broer" (Spreuke 18:24) en "die genot van vriendskap lê in die raad wat jy kry." (Spreuke 27:9b, 1983-vertaling) Vriende kan openhartig met mekaar praat, vir mekaar omgee en mekaar vertrou.
'n Ware vriend is iemand met wie ons goed klaarkom, 'n belangrike deel van ons lewe, in goeie en slegte tye, of hy of sy nou naby of ver is. Iemand wat ons aanvaar soos ons is, foute en al. Dit is 'n ware seëning van God. Eleanor Roosevelt het die volgende gesê: "Many people will walk in and out of your life, but only true friends will leave footprints in your heart.” Miskien is dit hoekom 'n mens met 'n vriend net weer kan aangaan waar jy die vorige keer opgehou het. Hoeveel te meer nie met God nie.
 
Hy "wat wat deur sy krag wat in ons werk,die mag het om oneindig meer te doen as alles wat ons bid of dink." (Efesiërs 3:20) God se vriendskap met Abraham toe Hy hom die onbekende toekoms ingelei het, het 'n diepte gehad wat alle menslike verwagtinge en begrip oorskry het.
 
God kon hom verseker: “Moenie bang wees nie, Abram! Ek is 'n skild vir jou. Jou loon is baie groot.” (Genesis 15:1) Abraham het God vertrou, hy het geglo dat God sy belofte gestand sou doen en het gedoen wat Hy hom beveel het. Met die verloop van tyd het hy God leer ken en besef dat Hy kosbaarder is as enige ander seëning en dat die koms van Jesus na hierdie wêreld sy afstammelinge se grootste seën sou wees.
 
Jesus het vir die Fariseërs gesê: "Abraham, julle vader, het daaroor gejubel dat hy die dag van my koms sou sien, en hy het dit gesien en was bly.” (Johannes 8:56)
 
Jesus het gekom om aan die mensdom te bewys dat God se liefde vir almal is. Hy was op aarde om vir die mense die weg na die Vader te wys, en daardie beginsel geld steeds: "Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel." (Johannes 15:14) Soos in die geval van Abraham, kon die dissipels se geloof slegs groei deur aksies wat liefde en vertroue aangewakker het.
 
Vir Jesus was sy dissipels kosbare mense wat Hy liefgehad het, wat Hy in sy vertroue wou neem sodat hulle dit wat Hy by sy Vader gehoor het, kon onderrig. Vir Hom was hulle nie soos diensknegte wat niks van hulle baas se sake geweet het nie. Hy het die beste vir hulle verlang. "Hierdeur word my Vader verheerlik, dat julle baie vrug dra en my dissipels kan wees. Net soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Bly dan in my liefde." (Johannes 15:8-9)
 
Jesus is ons "Forever Friend", ons Vriend vir altyd. Hy verlang ook vir ons die beste. Het jy al jou vertroue in Hom geplaas en sy vriend geword?
 
Gebed: Here Jesus, dankie dat U aan ons die Vader se liefde bewys, dat U my Vriend vir altyd is en dat U deur u voorbeeld my leer hoe om aan U te behoort. Help my om in U liefde te bly. Amen