In pas met God: Eer ons Skepper - 19 Januarie 2024
Louise Gevers
U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Psalm 139:13, 1983-vertaling
"In die begin het God die hemel en die aarde geskep" (Genesis 1:1) en alles daarin, maar die hoogtepunt van sy skepping het Hy laaste gemaak: die mens – ons – gemaak na die beeld van God, uniek, geestelik, produkte van sy wonderlike skeppingsvermoë en met sy afdruk vir altyd op elke mens. Hoe verstommend is dit nie!
Stop ons ooit vir 'n oomblik om ons te verwonder oor die manier hoe ons ontstaan het, of om oor ons uniekheid na te dink? Oordink ons iets bo ons eie begrip en open ons ons verstand om in verwondering na te dink oor die kompleksiteit van 'n baba wat die lewe in sy ma se baarmoeder begin – of oor onsself in die skoot van ons moeder – deur God daar geplaas, en sê ons dan: "Hoe groot is U!"
Die skepping is heilig. 'n Baba se ontstaan is nie net 'n natuurlike proses waar onder sekere omstandighede sekere bestanddele en 'n resep gevolg word soos wanneer ons 'n koek bak nie. Sonder God, en sonder sy wonderlike, ingewikkelde ontwerp reg van die begin af, sal daar geen lewe wees nie – net rou bestanddele. Maar die wonder is dat Hy self lewe in ons blaas.
In vandag se teksvers verwys die psalmdigter op 'n aangrypende manier na hoe God hom aanmekaargeweef en aan hom lewe gegee het. Hoe God sy ongevormde liggaam in die donkerte van sy moeder se baarmoeder gesien het, daar waar alles wonderbaarlik in die geheim gebeur, en wat Hy kon sien lank voordat enigiemand aan skanderings gedink het. Dawid se ontsag vir en bewustheid van God se impak op sy lewe reeds vanaf bevrugting, weerspieël die diepte van sy verhouding met God en dit onderskraag sy hoop in sy Skepper.
Wanneer ons in pas is met God wat ons reeds van die begin af ken – van die tyd waarvan ons kan sê: "geen been van [ons] was vir U verborge toe [ons] gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe [ons] aanmekaargeweef is diep in die moederskoot" (Psalm 139:15) – en ons meer oor Hom en sy intieme kennis van ons leer, is elke nuwe dag 'n wonderlike avontuur. Hy is die Een van wie ons nie kan ontvlug nie (Psalm 139:7) omdat, selfs al kan ons Hom nie sien nie, Hy oral is en Hy altyd daar is om ons te help en lei (Psalm 139:10), want vir Hom is selfs die "duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag". (Psalm 139:12)
Dit is eintlik moeilik om te verstaan hoekom ons nie in 'n verhouding met Hom wil wees, meer oor Hom wil leer en 'n beter begrip wil kry nie. Hy is die sleutel tot alle lewe, maar ook tot ons eie lewe, van daardie eerste wonderbaarlike oomblik tot aan die einde van "al [ons] lewensdae [wat] in u boek opgeskrywe [is]. (Psalm 139:16)
Hoe meer ons in pas met ons Skepper is, hoe meer sal ons besef dat Hy alles is wat ons nodig het, en sal ons leer om Hom vir alles te vertrou.
Gebed: Liefdevolle God en Skepper, ons loof U dat U ons gemaak het en vir u liefdevolle sorg vir elkeen van ons. U kennis van my "oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip." (Psalm 139:6) Dankie dat U my elke dag lei, en help my om U beter te leer ken. Amen